LUKAS 20:1-47

LUKAS 20:1-47 NLV

Op een van die dae, terwyl Jesus besig was om mense in die tempel te onderrig en die Goeie Nuus te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifkenners saam met die familiehoofde nadergestaan en vir Jesus gevra: “Sê vir ons met watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het jou hierdie gesag gegee?” Sy reaksie was: “Ook Ek het ’n vraag vir julle. Sê My, die doop van Johannes – was dit uit die hemel afkomstig of was dit ’n bloot menslike saak?” Hulle het dit toe onder mekaar bespreek: “As ons sê dat dit uit die hemel kom, sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sou sê: ‘Dit was ’n bloot menslike saak,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is vas oortuig dat Johannes ’n profeet is.” Hulle antwoord was dat hulle nie weet waarvandaan dit kom nie. Jesus het toe aan hulle gesê: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hierna het Jesus vir die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan boere verhuur het. Daarna het hy vir ’n lang tyd weggegaan. Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur met die doel dat hulle ’n deel van die druiwe-oes aan hom sou gee. Maar die boere het die slaaf geslaan en hom met leë hande teruggejaag. Die eienaar het verder gegaan en ’n ander slaaf gestuur. Maar hulle het daardie een ook aangerand, hom beledig en met leë hande teruggejaag. Die eienaar het toe nog verder gegaan en ’n derde slaaf gestuur, maar hulle het hom ernstig verwond en weggejaag. “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat staan my nou te doen? Ek sal my lieflingseun stuur. Hopelik sal hulle hom met respek behandel.’ “Toe die boere hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê: ‘Hierdie man is die erfgenaam. Laat ons hom doodmaak sodat die erfenis ons s’n kan wees.’ Hulle het hom toe uit die wingerd gejaag en vermoor. “Wat moet die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal opdaag en daardie boere doodmaak en die wingerd aan ander mense gee.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit mag nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat is die betekenis van hierdie Skrifwoord dan? ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het, het die hoekklip van die gebou geword.’ “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal vergruis word.” Die skrifkenners en die priesterhoofde wou Hom daar en dan arresteer, maar hulle was bang vir die volk. Hulle het in elk geval besef dat hierdie gelykenis teen hulle gemik was. Hulle het hulle geleentheid afgewag en toe spioene wat voorgegee het dat hulle dit opreg bedoel, gestuur om Jesus op sy woord vas te trek. So sou hulle Hom aan die owerheid en die gesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle het Hom toe gevra: “Leermeester, ons weet dat u reg praat en onderrig, en dat u nie mense op die uiterlike beoordeel nie: U onderrig mense volgens die waarheid om op die pad van God te loop. Is dit korrek dat ons aan die keiser belasting betaal of is dit nie?” Jesus het dwarsdeur hulle skelmstreek gesien en sê toe vir hulle: “Wys vir My ’n Romeinse muntstuk. Wie se beeld en opskrif is daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” Toe sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is.” Hulle kon duidelik nie daarin slaag om Jesus op grond van sy boodskap voor die volk vas te trek nie. Verwonderd oor sy antwoord het hulle liewer stilgebly. Sommige uit die geledere van die Sadduseërs, dié mense wat die opstanding uit die dood ontken het, staan toe nader en vra vir Jesus: “Leermeester, Moses het aan ons voorgeskryf: ‘As iemand se getroude broer kinderloos doodgaan, moet só iemand met sy broer se weduwee trou en vir hom ’n nageslag verwek.’ Daar was eenmaal sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf. Ook die tweede en die derde broer het met die weduwee getrou, maar ook kinderloos gesterf. Net só het ook die res van die sewe kinderloos gesterf. Laastens het ook die vrou gesterf. Wie se vrou word sy dan by die opstanding? Het al sewe die broers haar dan nie as vrou gehad nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Die mense van hierdie wêreld trou en word in die huwelik uitgegee, maar dié wat kwalifiseer vir die toekomstige wêreld en die opstanding uit die dood, trou nie meer nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie. Hulle kan ook nie meer doodgaan nie, want hulle is gelyk aan engele. Hulle is juis kinders van God omdat hulle kinders van die opstanding is. Die dooies word opgewek soos Moses reeds in die gedeelte oor die doringbos uitgewys het toe hy die Here genoem het ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’. Hy is mos nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want voor Hom leef hulle almal.” Sommige uit die geledere van die skrifkenners het gereageer: “Leermeester, u het dit mooi gestel.” Hulle het dit daarna nie meer gewaag om Hom iets te vra nie. Jesus het vir hulle gevra: “Hoe kan hulle dan beweer dat die Messias die seun van Dawid is? Dawid sê self in die boek van die Psalms: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Dawid noem Hom dan ‘Here’; hoe kan Hy sy seun wees?” Terwyl die hele volk aandagtig na Jesus luister, sê Hy aan sy dissipels: “Lig loop vir die skrifkenners. Hulle wil graag op en af loop met hulle ampsklere aan. Hulle is ook lief daarvoor om op die markplekke met respek gegroet te word en om die voorste sitplekke in die sinagoges, asook die ereplekke by die etes in te neem. Hulle verorber die huise van die weduwees en huigel met lang gebede. Hulle sal ’n swaarder straf ontvang.”