Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand, want niks is onmoontlik vir God nie.” Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan. ’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.” Maria het geantwoord: “Ek prys die Here. Ek juig in God my Verlosser! Want Hy het omgesien na sy nederige diensmeisie, en nou sal geslag na geslag my geseënd noem. Want Hy, die magtige Een, het groot dinge vir my gedoen. Heilig is sy Naam! Sy ontferming strek van geslag tot geslag oor almal wat Hom eer. Sy kragtige arm doen geweldige dinge! Hy verstrooi die trotse en hooghartige mense! Hy het prinse onttroon en nederiges verhef. Hy het dié wat gebrek ly, met goeie dinge versadig, en die rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy dienaar Israel gehelp! Hy het nie sy belofte vergeet om ontferming te bewys nie. Want Hy het ons voorvaders beloof – vir Abraham en sy kinders – om vir altyd goed te wees teenoor hulle.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe.
Lees LUKAS 1
Luister na LUKAS 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: LUKAS 1:36-56
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's