JOHANNES 1:43-51

JOHANNES 1:43-51 NLV

Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg My!” Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp. Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.” Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi. Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.” Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.” Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”