JEREMIA 13:12-27

JEREMIA 13:12-27 NLV

“Praat met hulle en gee vir hulle hierdie boodskap. ‘Die HERE, die God van Israel sê: Al die wynkruike sal vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik, jy hoef ons nie eens te vertel hoe voorspoedig ons gaan wees nie!’ Dan moet jy vir hulle sê: ‘Nee, dit is wat die HERE bedoel: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou op Dawid se troon regeer, en die priesters, profete en inwoners van Jerusalem. Ek sal hulle teen mekaar stukkend stamp, selfs ouers en kinders, sê die HERE. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek sal ook nie medelye met hulle hê nie. Ek gaan hulle vernietig.’” Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, want dit is die HERE wat praat: Gee eer aan die HERE julle God, voordat dit te laat is. Doen dit voordat Hy dit vir julle donker maak, want as dit skemer is, sal julle struikel en val op die donker berge. Julle sal wens dit word lig, maar Hy sal dit stikdonker maak. En as julle aanhou om ongehoorsaam te wees, sal ek eenkant staan en huil omdat julle so verwaand is. Ek sal bitterlik huil omdat hulle die kudde van die HERE in ballingskap wegneem. Sê vir die koning en sy ma: “Gaan sit baie laag, in die stof, want julle pragtige kroon sal van julle koppe weggeneem word.” Die dorpe in die Negev sal hulle poorte sluit, en niemand sal dit kan oopsluit nie. En die mense van Juda sal as ballinge weggevoer word. Almal van hulle sal in ballingskap gaan. Sien julle vyand uit die noorde aankom. Wat het geword van die pragtige kudde wat Hy vir julle gegee het om op te pas? Hoe sal julle voel as Hy die mense wat vroeër julle bondgenote was, nou toelaat om oor julle te heers? Julle sal krul van pyn soos ’n vrou wat geboorte gee! Julle vra dalk hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die vyand verneder julle en verkrag julle oor julle baie sondes. Kan Etiopiërs die kleur van hulle velle verander? Kan ’n luiperd sy kolle laat verdwyn? Dink julle miskien dat julle skielik kan begin goeie dinge doen nadat julle gewoond was om kwaad te doen? “Ek sal julle verstrooi net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei. Dit is wat Ek besluit het wat met julle moet gebeur,” sê die HERE. “Dit is die deel wat Ek vir julle afgemeet het, want julle het My mos vergeet en op valse gode vertrou. Ek sal julle verneder soos iemand wat kaal staan voor ander mense. Ek het gesien hoe julle die afgode in die veld en op hoogtes dien. Ek het ook al die skandelike dinge gesien wat julle gedoen het om hulle guns te wen. Jerusalem, jy sal sekerlik tot niet gaan! Hoe lank sal dit neem voordat jy eendag weer vir My aanvaarbaar sal wees?”