HEBREËRS 9:1-15

HEBREËRS 9:1-15 NLV

Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens en ’n aardse heiligdom gehad. Wat die aardse heiligdom betref: die verbondstent het twee vertrekke bevat. In die eerste een, dié een wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan. Aan die agterkant van die Heilige was daar ’n tweede gordyn, en daaragter was die tweede vertrek wat bekend gestaan het as die Allerheiligste. Daardie vertrek het die goue reukofferaltaar bevat en die ark van die verbond wat heeltemal met goud beklee was. Binne-in die ark was die goue kruik met manna, Aäron se kierie wat gebot het, en die kliptablette van die verbond waarop die Tien Gebooie gegraveer was. Bo-op die ark het die glansende gerubs die deksel van die ark – die plek van versoening – met hulle vlerke oorskadu. Ek kan egter nie nou op die besonderhede ingaan nie. Wat die erediensbepalings betref: Met alles so ingerig, het die priesters gereeld in die voorste vertrek van die verbondstent ingegaan om hulle dienste te verrig. Maar in die agterste vertrek, die Allerheiligste, kon net die hoofpriester ingaan en dit net een keer per jaar – boonop altyd met bloed wat hy aan God moes offer vir sy eie sondes sowel as vir die sondes wat die volk in hulle onkunde begaan het. Deur hierdie bepalings wys die Heilige Gees daarop dat die Allerheiligste nog nie vir almal oop was solank die voorste gedeelte van die verbondstent nog sy plek gehad het nie. Die tekortkomings van die ou erediens bevat vir ons vandag ’n les deurdat gawes en offers gebring is wat nie vir die een wat dit bring ’n volkome skoon gewete kon gee nie en net te doen gehad het met kos en drank en allerlei reinigingsgebruike – dinge wat net die uiterlike raak en wat net sou geld totdat God alles sou regstel. Maar nou het Christus as Hoofpriester gekom om al God se weldade te bedien. Hy het daardie groot, volmaakte heiligdom in die hemel binnegegaan wat nie die handewerk van mense is nie, en dus nie deel uitmaak van hierdie skepping nie. Eens en vir altyd het Hy met bloed in die Allerheiligste ingegaan, maar nie met die bloed van bokke en kalwers nie, nee, Hy het met sy eie bloed daar ingegaan en vir ons ’n ewige verlossing bewerk. Onder die ou stelsel kon die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers, wanneer dit oor mense gesprinkel word, hulle liggame van rituele besoedeling reinig. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die werking van die ewige Gees as ’n volkome offer aan God geoffer het, ons gewetens skoon was van die las van dade wat tot die dood lei sodat ons die lewende God kan dien! Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.