Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek. Daar was van die kant van die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus. Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek. Soos hulle die stede deurreis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra om daarvolgens te leef. So is die gemeentes in hulle geloof versterk, en die aantal gelowiges het by die dag meer geword. Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.” Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig. Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe. Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly. Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap. Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het.
Lees HANDELINGE 16
Luister na HANDELINGE 16
Deel
Vergelyk alle weergawes: HANDELINGE 16:1-15
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's