HANDELINGE 10:9-33

HANDELINGE 10:9-33 NLV

Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag, en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe. In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls. ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!” “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.” Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek. Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is. Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek. Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan. Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en ge-sê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!” En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is. Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie! Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’ So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 10:9-33