1 KORINTIËRS 14:1-25

1 KORINTIËRS 14:1-25 NLV

Lê julle toe op die liefde. Bly egter ook entoesiasties oor die gawes van die Gees, veral oor die gawe om te profeteer. As jy in tale praat, rig jy jou nie tot mense nie, maar tot God, want mense sal jou nie verstaan nie. Deur die werking van die Gees praat jy immers diep en onbegryplike dinge. Maar as jy profeteer, bou jou woorde mense op en bemoedig en vertroos hulle. Iemand wat in tale praat, word self geestelik opgebou, maar die persoon wat profeteer, bou die gemeente op. Ek sou bly wees as julle almal in tale praat, maar nog blyer as julle sou profeteer. Want om te profeteer, is ’n belangriker en nuttiger gawe as die spreek in tale, tensy iemand sou verduidelik wat jy sê sodat die gemeente daardeur opgebou kan word. Broers en susters, sê nou maar ek sou na julle toe kom en ek praat net in tale, hoe sou dit vir julle iets kon beteken? Maar as ek vir julle ’n Goddelike openbaring of ’n spesiale insig of ’n profesie sou bring, of julle sou iets besonders van my leer, dan sou dit tog sekerlik baie vir julle beteken. Selfs lewelose musiekinstrumente soos die fluit en die harp wys vir ons hoe noodsaaklik dit is om in verstaanbare taal te praat. Want as die note nie duidelik onderskeibaar is nie, hoe sal ons hulle melodie herken? En as die trompet nie ’n helder klank laat hoor nie, watter soldaat sal vir die geveg gereedmaak? Dieselfde geld vir julle. As julle in ’n taal praat waarvan ’n mens nie die woorde kan onderskei nie, hoe sal iemand verstaan wat julle sê? Julle sal soos mense wees wat in die wind praat. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld en hulle maak almal van klanke gebruik. Maar as ek nie sin kan maak van die klanke nie, sal ek vir die spreker onverstaanbaar wees en die spreker sal vir my ’n brabbelaar wees. So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou. Daarom moet elkeen wat in tale praat, ook bid vir die gawe van verduideliking. Want wanneer ek in ’n taal bid, is dit my gees wat bid, maar my verstand bly onaktief. Wat sê dit? Ek sal albei doen. Ek sal nie net bid met my gees nie, maar ek sal ook bid in verstaanbare woorde. Ek sal nie net lofsing met my gees nie, maar ook in verstaanbare woorde. Want as jy God net met jou gees prys, hoe sal hulle wat onkundig is oor wat jy sê, jou lofprysing met hulle “Amen” bevestig? Hulle verstaan tog nie wat jy sê nie. Jy het wel voortreflik gebid, maar jou medegelowiges word nie in hulle geloof opgebou nie. Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal. Maar in ’n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ’n onbekende taal. Broers en susters, julle moenie soos naïewe kindertjies wees in julle denke oor hierdie dinge nie. Wees liewer babatjies wat die kwaad aanbetref, maar volwassenes in julle denke. Daar staan in die Skrif dat die Here sê: “Ek sal deur andertaliges en deur die mond van onbekende mense met my eie volk praat. Maar selfs dan sal hulle nie na My luister nie.” Dit beteken dus dat die praat in tale ’n teken is, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges en dat profesie daarenteen nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges! Derhalwe, as die hele gemeente bymekaarkom en almal praat in tale en daar kom onkundiges of ongelowiges in, sal hulle nie sê julle is die kluts skoon kwyt nie? Maar as almal profeteer en daar kom ongelowiges of onkundiges in en hulle word deur almal oortuig van sonde, en hulle lewens word deur almal ondersoek, en hulle hartsgeheime word blootgelê, dan sal hulle net daar op hulle knieë val en God aanbid en verklaar: “Werklikwaar, God is hier by julle!”