YouVersion Logo
Search Icon

Efesiërs 4:17-32

Efesiërs 4:17-32 DB

Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie. Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle. Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie. Julle het Christus egter nie so leer ken nie. Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom. Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy. Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God. As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie. Moenie die duiwel kans gee om jou vas te trek nie. As iemand ’n lewe gemaak het deur ander mense se goed te vat, moet hy dadelik daarmee ophou. Hy moet vir hom ’n behoorlike werk kry en sy brood eerlik verdien. Hy sal dan nie net vir homself kan sorg nie, maar ook nog genoeg oorhê om vir mense wat niks het nie, iets te gee. Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak nie. As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan. Moenie die Heilige Gees wat God vir julle gegee het, se hart seermaak nie. Dat die Gees in julle is, is die bewys dat julle aan God behoort. So sal dit bly tot op die dag dat ons finaal van die sonde ontslae sal wees. Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy