YouVersion Logo
Search Icon

NG Universiteitsoord

SYSTEM UPDATE: WEEK 2

SYSTEM UPDATE: WEEK 2

Het jy al ooit daardie nare ervaring gehad wanneer jou rekenaar uit die bloute begin stadig raak…vries…, en dan skielik pop ’n boodskap in rooi letters oor jou skerm: "Virus Detected – Corrupted File!"? Dit is dié oomblik wanneer jy met skok besef dat jou belangrikste dokumente, kosbare foto's en al jou harde werk moontlik vir altyd verlore is. Maar weet jy wat regtig skrikwekkend is? Hierdie probleem lê dalk baie nader aan jou as net jou laptop. Wat as jou eie hart deur dieselfde soort fout geraak word? Hierdie week delf ons diep in ’n kragtige storie wat Jesus vertel het – ’n storie oor iemand wie se hart deur onvergewensgesindheid korrup geraak het, amper soos deur ’n virus besmet. Ons ontdek saam hoe maklik hierdie een "virus" jou hele menswees kan beïnvloed. Dis dalk ’n ongemaklike gedagte, maar dit is ook ’n opregte uitnodiging om stil te raak en na jou eie hart te kyk. As ’n mens dadelik optree wanneer jou rekenaar hierdie waarskuwing gee, behoort ons sekerlik met nóg groter dringendheid aandag te gee aan ons eie interne stelsels.

Locations & Times

NG UNIVERSITEITSOORD

Duxbury Rd & Herold St, Hatfield, Pretoria, 0083, South Africa

Sunday 9:30 AM

Sunday 7:00 PM

hey

CORRUPT FILE DETECTED

Ysbreker:
Speel 'n vinnige speletjie: Laat elkeen in die groep noem watter “app” hul persoonlikheid die beste beskryf — byvoorbeeld: Spotify (vol emosies), Notes (altyd besig met planne), WhatsApp (sociaal), Calculator (hou van orde), of Trash Bin (hou goed te lank). Gebruik dit as wegspringplek om ligsinnig maar eerlik te begin dink oor wat alles in ons geestelike stelsel rondlê.
Gesels kort hieroor:
1) Watter deel van die storie het jou die meeste getref of bygebly – en hoekom dink jy juis daardie deel?
2) Is daar ’n karakter in die storie met wie jy jouself ’n bietjie kan vereenselwig? Hoekom sou jy so sê?
Verken die wereld van die storie (sosio-historiese konteks):
Om regtig die skok en die krag van Jesus se gelykenis van die onbarmhartige dienskneg te verstaan, moet ons in die sosiale en kulturele wêreld van die eerste-eeuse Jode duik. Hierdie is nie net ’n mooi storie met ’n morele les nie — dit is ’n kultureel gelaaide oomblik wat Jesus se hoorders sou laat snak het na asem.

’n Skuld so groot dis belaglik
Jesus gebruik ’n bedrag wat mense nie eers kon verwerk nie – dit was soos om te sê iemand skuld biljoene. Die skok lê in hoe onmoontlik dit was om ooit self daarvoor op te maak.
Genade wat jou eer kos
In Jesus se tyd was eer belangriker as geld. Om iemand se skuld te kanselleer, was nie net goedhartig nie – dit het jou status en respek in die gemeenskap beïnvloed.
 Jy’t vergewe gekry – nou wat?
Die storie draai toe hard: die ou wat vergifnis ontvang het, gee dit nie aan iemand anders nie. En dis juis Jesus se punt – jy kan nie regtig genade ontvang en bly soos jy was nie.
Die koning móés iets sê
Die koning moes optree – nie net oor geregtigheid nie, maar om sy eie naam te beskerm. In ’n kultuur van eer en skande wys Jesus hoe belangrik dit is om genade ernstig op te neem.
Gesels saam:
1. Hierdie gelykenis gebruik ’n skokkende kontras tussen wat die dienskneg ontvang en wat hy self uitdeel. Wat sê dit vir jou oor hoe Jesus verstaan wat reg en onreg is in verhoudings tussen mense? Hoe koppel dit aan God se verwagtinge vir ons ?
2. Die koning se optrede teenoor die dienskneg is onrealisties genadig, maar tog volg daar harde oordeel aan die einde. Wat dink jy probeer Jesus hiermee sê oor die verband tussen genade en verantwoordelikheid?
3. Is daar situasies waar jy voel iemand anders verdien nie jou vergifnis nie? Hoe kan hierdie gelykenis jou help om anders na daardie gevoel te kyk?
4. Onvergewensgesindheid is soos ’n virus wat stelselmatig alles in jou binneste besmet. Watter tekens van hierdie “virus” herken jy dalk in jouself – selfs op subtiele maniere?
5. Wat sou dit prakties beteken om jouself oop te stel vir innerlike transformasie deur God se genade – spesifiek rondom iemand of iets wat jou seergemaak het.
Praktiese riglyne:
Jesus se gelykenis van die onbarmhartige dienskneg is nie net 'n morele storie nie – dis ’n dringende uitnodiging om só te leef dat genade jou werklik verander. As jy wil weet of God se vergifnis jou lewe aanraak, kyk hoe jy ander hanteer. Hier is vyf rigtingwysers vir 'n lewe waarin God se genade sigbaar word:

Hier is vyf rigtingwysers vir 'n lewe waarin God se genade sigbaar word:

1) Laat genade jou identiteit vorm: Jy is nie jou prestasies of mislukkings nie – jy is iemand wat ten volle vergewe is. Herinner jouself daagliks aan daardie waarheid.
2) Wees radikaal anders: Genade beteken jy tree anders op as die wêreld se verwagtinge. Jy gee vry wat ander vasgryp. Jy kies vrede waar ander vergelding kies.
3) Verander jou eerste reaksie: Vergifnis begin nie altyd met 'n gevoel nie, maar met 'n besluit. Begin deur daardie besluit te oefen – al voel jy nog nie daar nie.
4) Skep nuwe gewoontes: As jy weet dat sekere situasies jou laat terugval in bitterheid of oordeel, skep bewustelik nuwe patrone – ’n gebed, ’n teksvers, ’n stil word.
5) Laat ander die vrugte van jou vergifnis sien: Wanneer jy iemand vergewe, beteken dit nie jy maak seer goed goed nie. Dit beteken jy kies om nie langer daardeur gedefinieer te word nie – en daardie keuse bring lig vir ander.
Uitdaging vir die week:
Kies een persoon wat jy sukkel om te vergewe – nie omdat hulle dit verdien nie, maar omdat jy weet jy self diep vergewe is. Bid vir daardie persoon hierdie week.
Persoonlike stiltetyd vir die week(oggend/aand):
Oggend – Restart-knoppie
· Soms voel jy soos ’n stelsel wat vasgeloop het. Jou kop is vol tabs. Jou hart vol downloads wat nooit klaar maak nie.
· Sit stil. Lees Matteus 18:27.
· Dink: Watter "corrupted files" dra ek saam – skuld, bitterheid, selfverwyt?
· Bid:“Here, reset my binnekant. Maak skoon wat ek nie self kan herstel nie.”
Aand – Stil skandeer
· Voordat jy gaan slaap: doen ’n stiltetyd “virus scan”.
· Dink oor jou dag:
· Het ek iemand anders se genade gemis?
· Is daar iets wat ek môre anders wil aanpak?