NG Universiteitsoord

SYSTEM UPDATE: WEEK 1
Hierdie tyd van die jaar begin jou geestelike stelsel waarskuwings wys dat dit aandag nodig het. Jy’s besig, maar nie noodwendig naby aan God nie. Jy dra baie, maar groei min. Hierdie preekreeks is ’n uitnodiging om eerlik te kyk na die toestand van jou geestelike stelsel - vol waarskuwings wat jy dalk al lank ignoreer: system error, battery low, storage full... Met ses van Jesus se gelykenisse as gids, luister ons weer na God se stem wat sag maar dringend sê: “Kyk weer. Luister weer. Leef weer.” Dis tyd vir ’n geloofs-update Dit is belangrik om iets te verstaan van gelykenisse: Gelykenisse is nie ware verhale (soos geskiedenis nie), maar eerder tipiese stories wat oral in mense se lewens afspeel. Jesus se hoorders het ook saad gesaai, verlore skape gesoek en transaksies beklink. Wat Jesus se gelykenisse wel anders maak as gewone ervarings, is dat dit vir ons eerstens leer hoe ons ook moet kies en optree, en tweedens gee gelykenisse ons ook ‘n blik op God self. Ons sien iets van God in ‘n verlore seun se pa of in ‘n vrou wat sonder ophou haar verlore munstuk soek. Gelykenisse het dikwels ook ‘n kinkel – die storie eindiog anders as wat ons sou verwag. Hierdie verrassings is gewoonlik die sleutel om ‘n gelykenis te verstaan. As jy dan ‘n gelykenis lees, moet jy op die uitkyk wees vir die kinkels…
Locations & Times
NG UNIVERSITEITSOORD
Duxbury Rd & Herold St, Hatfield, Pretoria, 0083, South Africa
Sunday 9:30 AM
Sunday 7:00 PM

SYSTEM ALERT - SYSTEM ALERT
Daar is niks wat ‘n mens so gespanne en laat smag na jou asem soos daardie aaklige notification wat op jou rekenaar verskyn en sê: “System Error”. Jy weet nog nie wat is presies verkeerd nie, maar jy weet hier is groot fout!
So in die middel van die jaar kyk ons terug na Januarie en ons besef: dinge het dalk nie uitgewerk soos ons beplan het nie. Miskien is daar verhoudings wat skeef geloop het; keuses wat gemaak is met ‘n negatiewe uitwerking op jou lewe; jou akademiese drome lê dalk reeds op die rotse; op ‘n persoonlike vlak voel jy nie soos die beste weergawe van jouself nie; en nog dieper – jou verhouding met die Here voel dalk deurmekaar, stukkend en verlore. As jy jouself iewers hierin raak lees of angstig word oor soortgelyke omstandighede, dan weet jy – hier is groot fout! Dinge is nie besig om te werk soos dit moet werk nie.
Hierdie reeks wil juis hier begin – by daardie “error notifications” in ons lewens wat sê – daar is fout en alles werk nie soos dit moet en kan werk nie. Ons wil jou nie skuldig laat voel hieroor nie, juis die teenoorgestelde. Ons wil jou herinner dat God jou met sy genade op daardie deurmekaar, stukkende en verlore plek kom ontmoet. Die groot vraag is net: het ons die moed om voor Hom te erken dat daar iets fout is?
As jy een emoji moes kies wat jou jaar tot op hier punt die beste sou opsom, watse een sou jy kies? Stuur daardie emoji op die groeigroep se Whatsapp groep en vertel vir mekaar hoekom jy daardie emoji gekies het.
Klink iets vir jou bekend aan hierdie gelykenis wat Jesus vertel het? Voel dit nie vir jou of jy al iewers iets soortgelyk gehoor het nie? Met hierdie gelykenis vertel Jesus Psalm 23 in ‘n nuwe vorm oor. Gaan lees weer Psalm 23 en kyk watse ooreenkomste jy raak sien tussen hierdie gelykenis en Psalm 23.
‘n Gelykenis is ‘n eenvoudige storie wat uit alledaagse dinge bestaan en gebruik word om mense uit te daag om dieper na te dink oor morele en geestelike kwessies. Jesus vertel hierdie gelykenis op ‘n uitstekende manier. Hy trek die leser in die verhaal in deurdat jy amper jouself nie kan keer om ook te wonder wat jy sou doen as jy die herder was wat ‘n skaap verloor het of wat jy sou doen as jy die verlore skaap was.
Maar Hy plaas Homself ook in die middel van die gelykenis – Hy is die Herder wat enige iets sal doen om die een verlore skaap te gaan vind. Hierdie gelykenis wil onder andere vir om kom bevestig wie Jesus is – Hy is soos Psalm 23 sê die Goeie Herder wat selfs deur ‘n dal van donker skaduwee sal gaan om my te vind; en wanneer Hy my gevind het, vier Hy fees en laat my ook by daardie feesmaal aansit. Jesus is die Herder waarvan Dawid getuig in Psalm 23.
Lukas 15 bestaan uit 3 gelykenisse wat as ‘n eenheid gelees moet word, omdat Jesus deur hierdie gelykenisse presies vir ons wil kom vertel en verduidelik wie Hy is. Die goue draad deur hierdie drie gelykenisse is sy genade – God se genade is soekend en word vrygewig en sonder voorwaardes weggegee. Met ander woorde, as ek en jy die verlore skaap in die gelykenis moes verteenwoordig, is dit nie ons wat vir Jesus moet gaan soek om gevind te word nie. Hy kom soek ons, terwyl Hy alles agter sal laat, om die een wat verlore is te vind. Is dit nie genade onbeskryflik groot nie?
Herders uit vandag se Midde Ooste vertel dat skape wat verlore sou raak van hulle trop, amper ‘n tipe van ‘n verlammende angstigheid sou ervaar wat sou maak dat die skaap niks ander sou kon doen as om onder ‘n bos te gaan lê het en uit blêr vir hulp nie. Ons lewe in ‘n dol wêreld met so baie verwagtinge en hoë standaarde wat ons ook met ‘n verlammende angstigheid kan oorweldig. Ons kan maklik verlore raak in die verwagtinge, druk, hoë standaarde en vinnige pas van die wêreld. Die Herder maak ‘n belofte, gee nie om hoe verlore of hoe ver ons van die pad af gedwaal het nie – sy genade sal ons altyd kom vind.
· Wat is dit in jou lewe wat daardie verlammende gevoel binne jou skep?
· Op watter manier roep (blêr) jy uit na God in jou eie ‘verdwaalde’ situasies? Kan jy een so ‘n situasie met die groep deel.
· Jesus los die 99 vir die 1. Wat vertel dit vir jou oor wie Hy is en wat Hy alles bereid is om te doen vir jou?
· Uit hierdie teks, wat glo jy is dit wat vreugde aan God verskaf?
· Hoe verander die manier hoe ons leef, wanneer die Goeie Herder ons gevind het?
Herder uit die Midde Ooste vertel verder dat wanneer hulle ‘n verlore skaap in die wildernis sou vind, die skaap as gevolg die angstigheid te moeg sou wees om agter die herder aan te stap tot by die veiligheid van die kudde. Die herder sou die skaap op sy skouers tel en hom terug dra tot veiligheid. Wat kan jy doen as jy jouself vandag met ‘n “verlore skaap” kon identifiseer?
1. Wees eerlik – Moenie jou verlorenheid wegsteek nie. God begin juis daar waar jy nou is! Deel met Hom waar jy is.
2. Laat toe om gevind te word – Hou op weghardloop van God se genade. Stop, en laat toe dat Hy jou op sy skouers kan tel.
3. Vier genade – God vier fees en verbly Homself oor elkeen wat toelaat dat Hy hulle kan vind in hulle verlorenheid. Hy doen dit sonder voorkeur of voorwaardes, en Hy doen dit met elkeen van ons. Vier dat God se genade nie net vir jou bedoel is nie, maar ook ander omvou.
4. Soek saam – Binne die kudde voel al die skape veilig en tuis, veral die wat eers verlore was. Jy het die geleentheid om ‘n stuk veilige genade vir daardie persoon wat verlore (verdwaald, afgeskryf, onbelangrik) geraak het, te kan wees. Nooi hulle om eerlik te wees en God se genade vir hulself te ontvang.
God is sigbaar en lewend teenwoordig in die daaglikse lewe en werk van elke gelowige. Daarom is ons persoonlike verhale, kragtige bewyse van hoe die Heilige Gees in ons lewe beweeg. Deur hierdie verhale met mekaar te deel, leer ons by mekaar en word ons uitgedaag om God ook in ons eie daaglikse lewe raak te sien en met sy beweginge in pas te kom. Vat ‘n oomblik en reflekteer oor jou week/dag en deel met jou groep waar jy God se teenwoordigheid raak gesien het. Hierdie oefening veronderstel ‘n openheid om deur die Gees verras te word en om God in ons alledaagse lewe en wêreld te ontdek. God is nie net in die groot en buitengewone dinge nie, maar ook in die doodgewone alledaagse gebeure van ons lewens.
Jou uitdaging vir die week is om elke dag een God storie te vertel. Oefen dit nou in julle groep.
Lees hierdie week elke oggend Psalm 23 voor jy die dag begin. Jy kan dalk vir jouself ‘n nuwe “wallpaper” maak om op jou foon of tablet te sit, om jouself aan die wonderlike belofte van hierdie Psalm te herinner.