YouVersion Logo
Search Icon

NG Universiteitsoord

KAMERS - WEEK 1

KAMERS - WEEK 1

16 Feb: Met die deur in die huis (Ester 1 & 2) – Arno Meiring Ons gebruik kamers as ’n metafoor vir al die dinge wat vanjaar vir jou voorlê: Jy gaan jouself nuut en beter leer ken en daarom val ons met die deur in die huis deur te praat oor jou identiteit. Ons gesels dan oor jou vriende in die sitkamer; bak en brou, wen en verloor in die kombuis; en groei en leer in die studeerkamer. Uiteindelik nooi ons jou om ook stil te word in die slaapkamer en om op ’n besondere manier saam met die Here deur hierdie jaar te stap. (Ons eerste reeks fokus dus op jou en jou dinge. Later vanjaar kyk ons na die groter omgewing en waarvoor die Here jou in die wêreld wil gebruik.) Ons gids deur jou kamers is Ester. Die boek Ester is dalk minder bekend, maar baie interessant, insiggewend en hope pret! Ester is heel waarskynlik die Ou Testamentiese boek wat heel laaste geskryf is en is dus die jongste, mees moderne boek in die Ou Testament. Dit is ’n wysheidsboek, wat beteken dat dit nie voorgee om ’n historiese weergawe van gebeure aan te bied nie, maar eerder vir ons praktiese lesse wil leer (soos die verhale van Josef, Daniël en Jona ook doen). Dit is ook snaaks en oordrewe geskryf – soos ’n komedie – en jy moet hardop lag as jy dit lees. Die Jode lees Ester elke jaar tydens die Purimfees, en skree dan opmerkings en maak grappe as hulle weer die storie hoor. Jy kan ook jou oë rol vir ’n koning wat ses maande lank feesvier, of ’n wet maak dat elke man die baas van sy huis moet wees. Jy kan selfs ’n opmerking of twee skree … Die mees uitstaande kenmerk van Ester is dat God se naam nêrens in die boek genoem word nie. Dit is ’n baie slim tegniek wat die skrywers gebruik het om jou te laat soek vir God in hierdie storie. As jy begin soek, sien jy dat daar hope “toevallige” dinge gebeur. Só, vertel Ester, is God agter die skerms aan die werk; sy tekens is in alles wat gebeur. Ons gebed is dat jy ook in hierdie reeks God in al die kamers van jou lewe sal raaksien.

Locations & Times

NG UNIVERSITEITSOORD

Duxbury Rd & Herold St, Hatfield, Pretoria, 0083, South Africa

Sunday 8:00 AM

hey
Ons begin die reeks deur te kyk na identiteit. Die twee hoofkarakters, Ahasveros en Ester, kan ons sommer baie oor identiteit leer.

Ons word eerste voorgestel aan koning Ahasveros (Xerxes), die magtige heerser oor die Persiese ryk. Ahasveros was inderdaad ’n baie groot koning; as jy ooit die fliek 300 gekyk het, sal jy hom onthou as die koning wat met sy reuse leër die Spartane by Thermopylae verslaan het. Die Bybel beskryf die grootte van sy ryk akkuraat – hy het geheers van Indië tot by Etiopië (Kus). Ahasveros spog ook met sy eie grootheid. Hy hou twee reuse feeste – vir ses maande lank – net om te spog. Maar in werklikheid is hy ’n swakkeling wat nodig het dat ander hom prys en besing: hy neem swak besluite – dikwels wanneer hy half dronk is – laat hom voorsê deur ander, en kan nie eers sy eie wette verander nie. Hy (en sy raadgewers) is eintlik so onseker van homself dat hy ’n wet maak wat sê dat elke man baas oor sy eie huis moet wees. Wat ’n grap! Ahasveros lyk groot, maar is eintlik klein …

Aan die ander kant van die spektrum ontmoet ons vir Ester. Daar is baie dinge wat teen Ester tel: sy is ’n vreemdeling in ’n vreemde land en ’n weeskind (wat vir dié rede seker ook hartseer geken het). Maar Ester floreer. Sy is dapper, verstandig en wys, bou goeie verhoudinge en maak selfs die koning bly en vrygewig. Ester is klein, maar eintlik groot. Die rede? Dalk omdat sy ’n Jood is, deel van God se volk. Sy word versorg deur haar Joodse oom Mordegai. En, in die agter-die-skerms styl van die boek, laat God dinge vir haar reg uitwerk.

Waar staan jy? Is jou selfbeeld afhanklik van ander mense se goedkeuring en bewondering (soos Ahasveros)? Of is jou siening van jouself gebou op iets anders (soos Ester)? Ek nooi jou om hierdie week oor dié vraag te dink.
hey
Erediensnotas
Met watter verwagting kom ek na vandag se erediens?
Wat het ek in die diens gehoor wat my geraak het?
Watter nuwe perspektief het vir my oopgegaan tydens die erediens?
Wat wil ek graag onthou vir die week wat voorlê?
Groeigroep

Ysbreker-vraag: Jou voordeur
Hoe sal jy jouself aan iemand anders voorstel?
Wat moet mense van jou weet?
Wat weet mense nie van jou nie?
Wat kyk hulle mis?

Bid saam
Bid twee-twee saam. Vra dat die Here julle sal help om sy stem te hoor.

Lees, luister en gesels saam
Lees Ester 1 & 2 hardop saam.
Laat elkeen die teksgedeeltes stil op hulle eie weer deurlees.
Deel twee-twee met mekaar wat jy in die teks hoor, oplet, oor wonder ens.
Deel met die groot groep wat jou gespreksgenoot in die teks gehoor het.

1. Waarmee spog Ahasveros alles? Waarin soek hy sy identiteit en erkenning?
2. Stem julle saam dat hy eintlik ’n swakkeling is?
3. Wat sien julle van Ester raak? Watter eienskappe het sy?
4. Kan julle met haar identifiseer?

Vrae vir verdere gesprek
1. Ahasveros se selfbeeld en identiteit is afhanklik van ander se goedkeuring en bewondering. Wanneer maak ons ook so?
2. Waarin, dink julle, lê Ester se identiteit?
3. Ek het ook bewondering vir Vasti, wat nie lus is om voor die dronk mans te verskyn nie. Was jy al in so ’n situasie? Wat het jy gedoen?
4. Waarin vind jy jou identiteit? Wie of wat maak jou wat jy is?

Uitdaging vir die week
Mordegai, Ester se oom, speel ook ’n belangrike rol in Ester se siening van haarself. Hy versorg haar, gee haar raad, en bly deel van haar lewe.
Vir wie gaan jy opbou en ondersteun hierdie week?
Afsluiting
Lees Psalm 16 as gebed oor identiteit:

1Neem my in beskerming, o God;
ek soek skuiling by U.
2Ek het vir die Here gesê:
“Ek behoort aan U,
daar is vir my niks goeds nie behalwe by U…

5Here, U is my lewe, U sorg vir my.
Wat ek ontvang, kom alles van U af.
6'n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.

7Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het;
selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.
8Ek het die Here altyd by my:
omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie.

9Daarom is ek bly en juig ek
en voel ek my veilig.
10U gee my nie oor aan die dood nie.
U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie.
11U leer my hoe om te lewe.
By U is daar oorvloedige blydskap.
Uit u hand kom net wat mooi is.