Kruik Gemeente
Kruik Oggenddiens 3 April 2022
Kruik Oggenddiens 3 April 2022
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Sunday 6:00 AM
LENTREIS - Week 5 - Weg na versoening

So, vandag kyk ons na Jesus se woorde in Matt.5:9. Lees gou saam my 2 vertalings hiervan:
'Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 'MATTEUS 5:9' AFR83
“You’re blessed when you can show people how to cooperate instead of compete or fight. That’s when you discover who you really are, and your place in God’s family. 'Matthew 5:9 DB

So hierdie boodskap gaan oor Vrede en Vredemakers… As ek vandag jou moes vra: wil jy graag vrede in jou lewe hê? Is ek amper 100% oortuig, jy sou ja sê. Ek dink dis ‘n universiele behoefte oor die wêreld dat meeste mense vrede begeer. In ‘n wêreld met ‘n geskiednis van verskillende oorloë, was die die enigste ware volhoubare oplossing nog altyd ‘n vredesooreenkoms.
So, Jesus kom sê: “Geseend is die vredemakers…”
So, wat maak dat daar voorheen en tans nie vrede op aarde is nie? Moontlikhede kan insluit:
- Sonde & seer van die mensdom
- Insekuriteite in onsself dat ons maklik bedreig kan voel.
- Kompetisie & vergelyking
- Onwilligheid om die wat “anders” as ons is te akkommodeer en te omhels.

Tog, word ek en jy deur Jesus genooi om vrede te hê en maak… In ‘n besige wêreld vol uitdagings, hoe is dit moontlik dat ons vrede kan hê & maak? Ek wil vandag vir jou help probeer ‘n pad van vrede kom neerlê… Waar dit begin en waar dit heen lei…. Die vertrekpunt vir die pad van vrede is eenvoudig…

1. Vrede in Jesus…
As jy dink aan jou verhouding met Here, is daar vrede en ‘n plek van rus wat jy daarin vind? Of is daar miskien onsekerheid & onrus wat jy beleef? Dis belangrik om vadag te besef is meer as net dat Jesus jou vrede wil kom gee, is dat Hy vrede self is. Self honderde jare voor Jesus mens geword, kom profeteer Jesaja oor Jesus die volgende:
Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees: Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. Jesaja 9:5 DB

Jesus is ook die Koning & Prins van Vrede. Dan, tydens Sy bediening op aarde deel Hy die volgende woorde met Sy dissipels - ook met jou vandag:
'“Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie. ' JOHANNES 14:27

Jy sien, Jesus se vrede is anders as die tydelike vrede van hierdie wêreld. Mense en besighede maak soms beloftes en gee waarborge om jou gemoedsrus te probeer gee, maar selfs in die beste gevalle kan hulle teleurstel en is daar ‘n vervaldatum op ‘n waarborg. Jesus se vrede is egter ewig en volhoubaar - ‘n plek van ware rus waarnatoe Hy ons wil lei, soos die Goeie Herder doen…
Paulus kom help ons verder besef die belangrike rol wat Jesus speel om ons vrede in ons verhouding met God te vind, wanneer hy in Rom.5:1 kom sê:
'Omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons. En dit alles is aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur ons geloof het Hy gesorg dat ons nou in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Ons leef nou dag vir dag net uit sy goedheid. Daarom is ons baie bly en opgewonde. Want ons weet dat God se nuwe wêreld op ons wag. Daar sal ons sy heerlikheid sien.' Romeine 5:1-2 DB

Ons volgende stop op die pad van vrede is:
2. Vrede in jouself…
Baie mense besef en aanvaar wat Jesus wil hulle gedoen het om vrede tussen hulle en God te bring. Dat God hulle dus nou volkome vergewe het, maar iets voel nog kort, wat maak dat hulle nie volkome vrede beleef nie… En dit is vrede in hulleself… ‘n Goeie vraag om jouself hier te vra is: Het ek myself al heeltemal vergewe? Almal van ons het al foute gemaak, verkeerde keuses wat ons berou en spyt oor het. Dinge wat ons wens ons nooit moes doen nie, maar dit het gebeur. So wat nou? Jy het ‘n keuse: of met skuldgevoel, self verwyt en onrus binne jouself vir die res van jou lewe te leef OF… jouself te vergewe sodat jy vrede in jouself kan beleef… Die ding van vergifnis teenoor ander EN jouself is dat dit nie regverdig is nie… Jy vergewe nie iemand omdat hulle ewe skielik als reggemaak het en die verlede kon uitvee nie, maar omdat Jesus jou en ander reeds vergewe het… Jesus hang aan ‘n kruis, terwyl mense Hom bespot - “Vergewe hulle, want hulle weet nie…”
Miskien stel ek dit dalk hard vir jou vandag, maar dink hieroor: As die Seun van God jou vergewe het aan die kruis, wie gee jou en my die reg om nie onsself te vergewe nie? Probeer ons sê ons weet beter as God oor vergifnis of aanvaar ons nederig en dankbaar dat ons ook nou toestemming het om onsself te mag vergewe… Jesus nooi jou om ook jouself vandag te vergewe… Dalk moet jy dit doen vandag, want as jy nie doen nie, gaan dit moeilik wees om verder te reis op die pad van vrede…
Dit lei ons vandag na ‘n belangrike en laaste stop en dit is…

3. Vrede met ander…
God roep jou tot vrede tussen jou ander… Paulus skryf aan die Kerk van Kolosse die volgende”
'Verdra mekaar en as enigeen ’n klag­te teen iemand anders het, vergewe me­kaar. Vergewe me­kaar soos die Here julle ver­gewe het. 'KOLOSSENSE 3:13 NLV

Soos wat die Here julle vergewe het… Hoe het die Here ons vergewe? Onvoorwaardelik en Genadiglik… Mag die Here ons help om ons medemens deur Jesus se oë te sien en so te kan vergewe soos Jesus jou en my ook vergewe het om ‘n ware vredemaker te wees…
Deel van ons vrede met ander, is dat God ons ook roep…
God roep jou tot vrede tussen Hom en ander…
Kan jy glo dat die Here jou nou kom aanstel as ‘n vredesagent tussen Hom en ander? Lees saam my 2 Kor.5 vir meer hieroor:
'Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met ook Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God! '2 KORINTIËRS 5:18-20 NLV

Jy sien ‘n vredemaker is meer as iemand wat net tussen 2 mense kom staan wat in konflik is en hulle te probeer afkoel en vrede maak… Meer as dit dat die Here jou kom roep om ander lei na die pad van vrede met God, dat hulle die Koning van Vrede mag ontmoet en saam met Hom stap…
Jesus kom sê:
'Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 'MATTEUS 5:9' AFR83

Iets wat kenmerkend van kinders is, is hulle nabye verwantskap en voorkoms van hulle ouers… As jy self kinders het, sal jy weet wat ek bedoel… Jy sien baie keer iets van jouself in jou kinders - miskien nie altyd die goeie nie, maar hopelik meestal mooi en goeie dinge… Mense maak dalk ‘n aanmerking: jou seun/dogter lyk so baie soos jy… Net so wanneer ek en jy vredemaker is, is ons besig om soos God te lyk, want Hy is ‘n Vredemaker van hart…
Mag ons die pad van vrede stap om te begin by Jesus en vrede in Hom te vind… dan onsself te vergewe… en verder ook met vrede na ander na te streef… Wat maak jy vandag met Jesus se uitnodiging om die pad van vrede & versoening te loop?