Kruik Gemeente
Kruik Oggenddiens 9 Januarie 2022
Kruik Oggenddiens 9 Januarie 2022
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Sunday 7:00 AM
My RITMES vir 2022

Dink vir ‘n oomblik: Wat is die mees bekende gewoontes wat jy in jou lewe het? Tandeborsel? Of miskien koffie in die oggend te maak voor jy die dag begin? Dalk sosiale media op jou foon oop te maak? Almal van ons het sekere gewoontes.

Vandag gaan ons bietjie gesels daaroor en ek gaan soms ‘n ander woord daarvoor gebruik nl. Ritmes vir 2022. Ritmes klink vir my beter en dit voel ‘n bietjie meer van ‘n positiewe konnektasie wat dit het as die woord “gewoontes”. Deur die loop van die boodskap mag ek waarskynlik hierdie 2 woorde afwissel wat op dieselfde neerkom: ‘n Gereelde gebruik wat jy beoefen. Iets wat oor tyd amper outomaties en onbewustelik gebeur.
So, Hoekom praat oor ritmes hier aan die begin van die jaar? Is dit regtig so belangrik?

Ek het eendag 'n wonderlike storie oor gewoonteverandering gehoor wat ek met jou wil deel.’n Ryk man het eenkeer ’n ou, wyse man gevra om sy seun te help om sy slegte gewoontes te verander. Die ou man het sy seun gevra om saam met hom deur die tuin te gaan stap. Nadat hy 'n paar treë gegee het, het die wyse man gestop en die jong man gevra om 'n blommetjie uit die grond te pluk.Die jong man het die plant met sy vingers gegryp en dit maklik uitgepluk. Die wyse man het geknik en hulle het weer begin loop.'n Paar sekondes later het hulle weer stilgehou en die wyse man wys na 'n ander plant, 'n bietjie groter as die vorige. Die jong man het dit met sy hand gegryp en dit met 'n bietjie moeite uit die grond gepluk. “Pluk nou daardie een uit,” sê die wyse man en wys na 'n bos. Die jong man het die bos met albei sy hande gegryp en met al sy krag daarin geslaag om dit uit die grond te pluk. Die wyse man sê toe vir seun: “Nou sien jy daardie boompie, daar? Probeer daardie een pluk.” Die jong man het die boom se stam met albei hande gegryp, so hard getrek as wat hy kon, maar hy kon dit nie eers beweeg nie. “Dis onmoontlike. Ek kan dit nie doen nie.”Toe sê die wyse man: “Jy sien my seun, dit is dieselfde met ons gewoontes. As ons hulle laat groei en wortel skiet, word dit vir ons moeiliker en moeiliker om hulle te keer.”

Laas Sondag het ons ondersoek wat is die beste begin wat ek en jy kan maak die jaar?. Ons kan egter beste intensies hê vir 2022, jy kan selfs die best begin maak vir die jaar, maar as jy nie goeie ritmes hier aan die begin van die jaar het nie, gaan jy iewers momentum en rigting verloor en uitsak. Dit geld eintlik in enige area van jou lewe waarvoor jy ‘n doelwit stel, hetsy geestelke, finansieel, jou gesondheid, werk, menseverhoudinge of wat ook al is.

Tydens vandag se boodskap, wil ek verwys na 2 boeke oor ritmes. Eerste daarvan is ‘n boek met die Atomic habits geskryf deur James Clear, wat tans seker die beste verkoper boek op die onderwerp van gewoontes is. Ek lees net vir jou kortliks iets wat hy sê hieroor:
All big things come from small beginnings. The seed of every habit is a single, tiny decision.Success is the product of daily habits—not once-in-a-lifetime transformations. Goals are good for setting a direction, but systems (habits) are best for making progress.”

Jou ritmes hier aan die begin van die jaar is belangrik as jy ‘n vervulde en suksesvolle 2022 wil beleef. Vandag wil ek baie spesifiek saam jou inkyk rondom ritmes wat ons geloofsreis saam met Jesus in hierdie jaar kan verryk en verdiep.Ek glo ons sal deur die loop van die jaar nog heelwat uitbrei op hierdie tema, maar wil vandag jou ‘n paar geloofsritmes gee wat jou kan help geestelik groei in hierdie jaar. Eerder as wat ek self probeer uitdink wat hierdie ritmes moet wees, het ek gaan kyk na die ritmes in Jesus se lewe. Hy is tog ons beste rolmodel en voorbeeld.
So, is daar ‘n man met die naam Jay Dennis wat ‘n paar jaar terug ‘n boek geskryf het met die naam “The Jesus Habits” waar hy ‘n studie gedoen het op Jesus se lewe & bediening in die lig van watter gewoontes Jesus gehad het en die skrywer het ontdek daar was 31 ritmes wat Jesus gehad het. Moenie bekommer nie, ek gaan jou nie vandag oorweldig om al 31 rimtes te deel van hierdie boek nie, maar 3 daarvan uitlig wat jou kan help in 2022 op jou geloofsreis. Die eerste daarvan is:

1. GEBED
Gebed is ongetwyfeld een van die belangrikste ritmes in Jesus se lewe & bediening wat bygedra het dat Hy Sy missie op aarde suksesvol kon aanpak en voltooi.Jesus het bv. gebid vroeg die oggend voor Hy bedien het, Hy het gebid voor Hy besluite geneem het bv. toe Hy Sy disspels moes kies, Hy het gebid voor Hy geëet het en selfs laat in die nag het Hy gaan bid. Gebed was die konneksiepunt met Sy hemelse Vader en ‘n ge-intigreerde deel van Sy lewe. Lees saam my een voorbeeld van Jesus se gebedsritme:
'Die nuus oor Jesus het soos ’n veldbrand versprei. ’n Groot massa het na Hom toe gestroom om te hoor wat Hy sê en om gesond gemaak te word. Jesus moes gereeld na stil plekke toe uitwyk om ’n bietjie stilte te hê en om te bid.' Lukas 5:15-16 DB

Gebed kan natuurlik in verskillende vorme uitgedruk word. Daar is stilgebed om net stil te raak in die Here se teenwoordigheid en te luister. Daar is ‘n noodgebed om die Here te vra om in te gryp in ‘n situasie. Dan is daar ook ‘n dankgebed om gereeld die Here dankie te sê vir wie Hy is en wat Hy doen in jou lewe. Die punt is dat ons op ons geestelike reis genooi word om reg deur ons dag en lewe geleenthede te skep om met God te kan praat en ook te hoor wat Hy sê.Gebed is in ‘n groot mate die asemhaling van ons verhouding met God. Sonder daardie konneksie met God, gaan dit moeilik wees om ‘n gesonde verhouding met Hom te bou.
Mag ons ons gebede eenvoudig, eerlik, eg en vol geloof hou dat die Here jou gebede hoor en jy ook Sy stem beleef in jou gesprek met Hom. Dis verseker een van die beste ritmes wat ek en jy in 2022 kan ontwikkel en beoefen tot ‘n gesonde geestelike reis saam met Jesus.
‘n Tweede essentiële ritme van Jesus se lewe was LIEFDE…

2. LIEFDE
Hierdie ritme van liefde het natuurlike gevloei vanuit wie Jesus is… God is liefde sê Johannes.Maar nie net is ritmes ‘n uitvloeisel van wie ons is nie, maar so ook vorm ritmes wie ons word. M.a.w. liefde is iets wat ontwikkel en beoefen kan word, meer as net iets wie jy dadelik is. Hoor hoe verduidelik Jesus dit self:
'Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.”'JOH.13:34-35 NLV

Ek weet nie van jou nie, maar as ek eerlik moet wees kom liefde vir mense nie ALTYD 100% natuurlik vir my nie, veral vir mense wat ek aanvoel my dalk nie so liefhet nie van hulle kant nie.As ek egter ‘n ritme van liefde kan beoefen kan ek groei daarin en oor tyd dit meer & meer natuurlik sal kom en mense meer van Jesus in my lewe sal kan sien - dat ek ook Sy dissipel is.Soos gebed, kan liefde ook verskillende vorme inneem. Dit kan bv. wees om vir iemand te glimlag, te help, te bemoedig, te bid, te luister…‘n Goeie vraag wat jy gereeld kan vra om liefde prakties ‘n ritme te maak, is wat Andy Stanley vra nl: “What does love require of me?” In die huidige situasie waarin ek myself nou bevind tussen die huidige mense: wat verwag liefde NOU van my? Hoe kan ek NOU liefde bewys?
Mag Jesus se liefde en ritme van liefde jou en my deel raak en wees in 2022… ‘n Laaste belangrike, maar tog onbekende ritme wat Jesus gehad het wat ek met jou wil deel is die ritme van:

3. RUS
Kan jy glo dat die Seun van God, die Redder van die wêreld ook gereeld gerus het? Eintlik moet dit ons nie verbaas nie, want ons sien reg aan die begin van die skepping hoe God op die 7de dag gerus het en gereflekteer het op Sy skepping. Baie plekke waar Jesus preke gebring het Hy gaan sit en so bedien. Terwyl Sy bediening baie besig en veeleisend moes wees, het ‘n spasies geskep waar Hy Sy liggaam, siel en gee kon verkwik. Seker die mees duidelike voorbeeld van Jesus se rus vind ons in Matt.8 wat kom sê:
“EN toe Hy (Jesus) in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. En daar het 'n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap.” 'MATT. 8:23-24 AFR53

Selfs terwyl storms om Hom woed, maak Hy tyd vir rus. Ek glo as die Seun van God nodig gehad het om te rus, het ek en jy ook rus nodig as ons hierdie jaar volhoubaar en effektief in ons lewe wil funksioneer. Die ou bekende prediker Charles Spugeon het ook die volgende gesê: Sometimes the most spiritual thing a person can do is sleep. —Charles H. Spurgeon.

Maar hierdie rus bestaan meer as net uit slaap. Dit gaan ook oor sielsrus, betekende tyd wat jy skep om stil te staan, te reflekteer op jou dag of week asook afleiding in jou gedagtes van jou werk te hê en toelaat dat die Here jou innerlike mens kom versterk.As ek en jy hierdie jaar sterk wil eindig sal ons rus moet kan inbou in ons lewe in. Die beste geskenk wat jy vir ander hierdie jaar kan gee is ‘n gesonde jy. Mag die Here help om tyd te maak daarvoor.
As ons vandag praat oor ritmes of gewoontes, kom dit neer op watter tipe mens ons word in die proses. Ons ritmes kan ons maak of breek, hetsy ons gewoontes goeie of slegte gewoontes is. So, watter tipe mens wil jy word in 2022? As ek en jy dit nie gaan vasmaak vir onsself nie, gaan waarskynlik ons omstandighede en ander mense bepaal wat hulle dink wie ons moet wees en watter ritmes ons moet hê. John Ortberg kom waarsku ons teen invloed van die gejaagdheid & gewoel van hierdie lewe, wanneer hy sê: "The great danger is not that we will renounce our faith. It is that we will become so rushed and preoccupied that we will settle for a mediocre version of it."

Ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie “settle” vir ‘n middelmatige weergawe van wie God wil hê ek moet wees en ‘n middelmatige tipe lewe leef, terwyl die Here ver meer wil doen in en deur my lewe nie. Mag ons daarom let op die ritmes van ons lewe, want dit maak saak oor watter tipe mense ons gaan word. Wil jy hier aan die begin van die jaar oorweeg om nuut te dink oor die ritmes van jou lewe nie en om dalk sekere aanpassings te maak, soos die Here dit op jou hart lê en jy weet jou ‘n beter jaar gaan gee as ooit te vore. Mag die gesonde en goddelike ritmes in ons lewe sterk groei soos bome wat nie uitgetrek word nie, maar vrug dra.
BESPREKINGSVRAE:
1. Wat is die mees bekende gewoontes wat jy in jou lewe het?
2. Watter invloed dink jy het jou ritmes op jou lewe?
3. Watter ritmes kan jou in 2022 help om meer te word die persoon wie God jou geskep en geroep het om te wees?
4. Watter ritmes kan jou in 2022 help om meer 'n seën vir ander mense te wees?