YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Oggenddiens 2 Januarie 2022

Kruik Oggenddiens 2 Januarie 2022

Kruik Oggenddiens 2 Januarie 2022

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 7:00 AM

2 JAN - DIE BESTE BEGIN

Dis ‘n nuwe jaar en ‘n geleentheid om ‘n nuwe begin te maak oor hoe jy dinge gaan aanpak die jaar…
Ek wonder as ek vandag jou moes vra: Wat sou jy graag wou sien gebeur in jou lewe in 2022? Wat sou jou antwoord wees? Is daar iets wat jy ANDERS sal wil sien gebeur as wat verlede jaar gebeur het?

Dit laat my dink aan woorde van ‘n skrywer en prediker Ed Silvoso wat hy sê:
“To see what you haven’t seen yet, you need to do what you haven’t done yet, because if you keep on doing what you’ve always done, you will continue to see what you have always seen.” Ed Silvoso

M.a.w. as daar dinge is wat jy anders wil sien in hierdie jaar gaan jy iets anders moet doen.
Die gevaar wat ons wel het as mens met hierdie uitkyk van sukses inneem, is dat ons kan dink die sukses in ons lewe net van onsself gaan afhang, dat ons die rol van God in ons lewe kan en wil speel mis. Ons is goed met ons eie planne te maak, soos die ou gesegde bevestig: “n boer maak ‘n plan”. My vraag aan myself en jou egter is: Wat is God se plan vir jou vir 2022?

Ek wil deur vandag se boodskap vir jou voorstel wat ek dink die beste begin en vertrekpunt is om hierdie jaar iets mooi van God te sien en beleef in jou lewe. Daardeur waarborg ek nie dat alles perfek in jou lewe gaan loop en jy altyd gaan kry wat jy wil hê nie, maar dat jy ten minste die wete dat jy Jesus se raad kan vat en volg wat Hy dink die beste ingesteldheid is vir ‘n nuwe begin.

Ek wil jou nooi saam my in Matt.6 te ontdek oor Jesus se raad wat die beste vertrekpunt is. Hierdie gedeelte speel heel waarskynlik af op ‘n berg daar langs die see van Galilea waar Jesus besig met ‘n groot preek, bekend as die bergprediking wat Hy daardeur ‘n prentjie wil kom skets van God se koninkryk en watter rol God asook ons speel in hierdie koninkryk.
Lees gou saam my die laaste verse in Matt.6 wat Jesus kom sê:
“Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!” Matteus‬ ‭6:33‬ ‭DB

Jesus se raad om ons lewe en ook so die jaar die beste te kan begin is God eerste stel in jou lewe. Aan die ander kant is dit maklik om dit wat die Here in ons lewe doen vansselfsprekend te neem, maar kom ons dink net vir ‘n oomblik:
Wat kan gebeur as ons NIE die Here eerste in ons lewe stel NIE?Ons probeer dan staatmaak slegs op ons eie insigte om groot besluite te neem.Ons probeer in ons eie krag probeer “cope” in die groot eise wat hierdie lewe bied. Ons probeer veg vir ons eie veiligheid, voorsiening en voortbestaan sonder om die Here deel daarvan te raak. Ek dink hierdie lewe is te kompleks en gebroke om NIE die Here deel daarvan te maak nie.
‘n Klassieke voorbeeld van hoe ons God eerste kan stel is Jesus se lering oor gebed waar Hy Sy volgers, ons ingesluit ‘n nuwe manier van bid kom wys, meer bekend as die Onse Vader gebed. Ek glo hierdie gebed is nog relevant en kragtig vandag vir ons lewe in 2022. Kom ons lees net weer eers die eerste deel daarvan saam as ‘n voorbeeld om God eerste stel:
Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; MATTHÉÜS 6:9-10 AFR53

So, Jesus leer ons bid om te begin met die woorde van wie God is en waar Hy is: “Onse Vader wat in die hemele is…” Dan sien met duidelik die fokus op God met die woorde: “U Naam, U koninkryk, U wil.” Deur hierdie eerste deel van ons gebed wys dit duidelik dat God die belangrikste plek in ons lewe wil inneem en hierdie lewe eintlik meer oor Hom gaan, Sy heerlikheid as ons plesier. So ook, dit wat in die hemel is meer deel van ons aardse lewe kan word.

Paulus bevestig die belangrikheid en gesag van hierdie God wanneer hy in Kol.1: skryf:
Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep.” KOLOSSENSE 1:16 NLV

Ek en jy is nie geskep DEUR God nie maar ook VIR Hom, dat ons Sy droom oor ons lewe kan uitleef. Primer is ons hier op aarde om God te kan verheerlik en vir Hom te kan leef, as net bloot vir ons eie plesier en gewin.Beteken dit vandag dat vir God alles oor Homself gaan? Dat Hy so opgevang is in Sy heerlikheid dat ons behoeftes & begeertes nie vir Hom saak maak nie? Verseker nie! Dis juis waarom Jesus verder aangaan met die Onse Vader gebed met vlge:
Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. MATTHÉÜS 6:11-13 AFR53

Die fokus van hierdie gebed skuif duidelik nou van God af na ONS behoeftes ook. Ons daaglike broodOns skulde Ons versoekinge
Jy sien, jou en my welstand is ook belangrik vir God. Hy wil hê dit moet goed gaan met jou as Sy geliefde kind.
En dan die laaste woorde van hierdie gebed kom leer Jesus: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Hierdie woorde bevestig hoekom ons by God moet begin, want alles behoort aan Hom. Hy is die groot Skepper en Outeur van lewe, Redder van die wêreld en Koning v die Konings.
Dis alles wonderlik, maar hoe gaan ek en jy hierdie jaar God eerste kan stel en so die beste begin kan maak?

Ek wil jou graag 2 belangrike manier gee hoe jy dit kan doen hier in die begin van die jaar.

1. In jou besluitnemings…
Die onse Vader gebed kom daag ons uit om nie net ons eie wil en kop te volg nie, maar God se wil te soek en toe te laat dat dit ons realiteit ook hier op aarde raak. Saam met dit moet ons ook besef dat God se manier van dink en werk nie altyd is soos ons menslik en logies dink nie. Soos ons reeds gesing het is dat Sy weë soms hoër as ons weë is.Dit beteken dit gaan soms geloof & vertroue in God verg om Sy wil en besluitnemings aan te neem bo jou eie of dalk die populêre roetes. So hoe kan jy toelaat dat die Here jou besluitnemings kom beinvloed? Eenvoudig om Hom te vra: “Here wat wil U hê ek moet besluit of doen in hierdie situasie?”Jakobus, die broer van Jesus, verduidelik dit mooi wanneer hy sê:
Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.” JAK.1:5

Die Here begeer om jou te help in jou besluitnemings deur Sy wysheid vir jou te gee. Ek glo vandag dit gaan meer vir Hom as net om jou lewe te beheer.Eerder gaan dit vir Hom oor dat Hy jou so liefhet dat Hy graag wil hê jy moet die beste besluite moontlik neem wat jou en ander gaan help in die lewe.Ek glo as ek en jy God eerste gaan stel in ons besluitnemings daar mooi dinge gaan voortvloei, hetsy dit is besluite oor ons verhoudinge, finansies, gesondheid, werksbesluite of wat ook al. Gee in 2022 God kans om jou te help met jou besluite.
Tweedens, om God eerste te stel in hierdie jaar, gaan ook oor:

2. In jou optrede…
Optrede is die volgende stap na jy ‘n besluit geneem het. Dis waar die “tekkie die teer slaan”. Ons kan maklik vroom en heilig voorkom in ons intensies, maar hoe lyk jou en lewe in die praktyk? Ek glo daar is waar God ook eerste wil wees en deur jou lewe ‘n werklikheid vir jou en ander wat deur jou lewe raak wil wees.
Hoor hoe eenvoudig en duidelik stel die dissipel Johannes dit in 1 Joh.3:18
'My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is. '1 Johannes 3:18 DB

As God in ons lewe vir ons belangrik is, sal ons optrede iets getuig dat ons Hom eerste stel. Hy nooi ons om ‘n lewe van liefde te lei wat ook oorvloei na ander toe. Dalk het jy al beleef, soos ek, dat die Here op jou hart lê om iets vir iemand te gaan doen, maar dan in jou gedagtes dink jy dis te veel moeite of daar sal iemand anders wees wat daardie persoon help. Mag jy saam met my ophou verskonings maak vir optrede wat nie ooreenstem met ‘n lewe wat God eerste stel nie. Mag ons optrede meer en harder as ooit getuig dat God eerste in ons lewe is.

Vanoggend gaan ons ook nagmaal saam gebruik. Die Nagmaal kom getuig dat ek en jy vir God belangrik was. Dit was ter wille van ons, dat Jesus aan die Kruis sy lewe kom gee het en so die finale prys betaal het vir ons sonde. As ons as nietige mense so belangrik vir God is, hoeveel te meer moet Hy nie belangrik vir ons wees nie. Terwyl ons vandag nagmaal gaan gebruik en luister na ‘n lied, mag jy opnuut jouself toewy aan God hier aan die begin van die jaar en beleef dat die Here self die beste vertrekpunt is vir n vervulde jaar wat voorlê.
BESPREKINGSVRAE:
1. Wat sou jy graag wou sien gebeur in jou lewe in 2022?
2. Is daar iets wat jy "anders" sal wil sien gebeur as wat verlede jaar gebeur het?
3. Hoe gaan jy hierdie jaar God eerste kan stel en so die beste begin kan maak?