Kruik Gemeente
Kruik Oggenddiens 25 Desember 2021
Kruik Oggenddiens 25 Desember 2021
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Saturday 7:00 AM
KERSDIENS BOODSKAP 2021

Ek wil jou nooi om vandag iets anders te raak te sien en te hoor oor die Kersboodskap van Jesus wat jy miskien nie elke dag hoor nie. Vandag se Kersboodskap is ‘n uitnodiging wat kom sê: “Maak plek vir Jesus”

Lees gou saam met my Luk.2:1-7 NLV as die vertrekpunt vir vandag se Kersboodskap:
“Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word. Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”

So, die Seun van God, die Redder van die wêreld, die Koning van die Konings is nie in ‘n paleis of luukse plek gebore nie, maar in ‘n diere stal in Bethlehem as geboorteplek en ‘n voerplek vir diere as sy eerste babakot. Die feit dat Jesus van die begin van Sy menswording nie ‘n gemaklike plek gehad het om in gebore te word nie glo ek nie is bloot ‘n eenmalige toeval nie maar was die begin van ‘n patroon van hoe die wêreld Jesus sou hanteer.
Hoor gou hoe beskryf die dissipel Johannes se menswording van Jesus in Joh.1:9-11 NLV:
'Hy (Jesus) wat die betroubare lig is, wat elke mens verlig, was op pad na die mensewêreld. Maar toe Hy wel in die wêreld was – dié wêreld wat deur Hom ontstaan het – het die mensdom Hom tog nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie."

Mens kan deur die loop van Jesus se lewe en bediening aanhoudend optel ‘n sekere tipe weerstand teen Hom. Mense wat Hom nie wil erken en aanvaar nie, Hom selfs haat. Mense wat nie plek wil maak vir Jesus in hulle lewe nie. Kom ek gee jou ‘n paar voorbeelde daarvan deur Jesus se lewe en bediening:Soos ons reeds gelees het, was daar nie plek in die herberg vir Hom in Bethlehem nie. Kort na Jesus se geboorte in Bethlehem, wil Herodes die Grote hom doodmaak. Sommer gou in Jesus se bediening, verwerp die Joodse leiers Hom en wil Hom ook doodmaak. En so, sterf Hy ook aan ‘n kruis a.g.v. mense wat Hom uitgewerp, verloën en verraai het.Ons kan vandag dit so stel: Van Sy geboorte tot Sy sterwe was daar nie genoeg plek vir Hom gemaak word nie.

Jesus self bevestig en verduidelik hierdie patroon in Joh.15:18-19 NLV, wanneer Hy sê:'
“As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het. As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle."

So, mens kan dalk ‘n lang lys redes maak hoekom daar nie plek vir Jesus en Sy volgers gemaak is hier op aarde nie, maar in kort kom dit neer op wat Jesus hier sê: Omdat hierdie aarde en hierdie lewe nie Sy of ons ware huis is nie. Ons ware huis is eintlik by God in die hemel en dat die aardse sondige tydelike wêreld dit nie kan begryp nie.
Beteken dit dan vandag dat ons apaties en verleë moet raak oor Jesus en ons ware herkoms? Amper om te sê: “Ek’s jammer ek’s in die pad. Ek’s nie eintlik van hier nie. Ek wil ook eintlik nie hier wees nie. Ek hoop nie ek pla iemand nie.” Is dit die ingesteldheid wat Jesus op aarde gehad en is dit die ingesteldheid wat Hy wil hê ons moet as Sy volgers hê?

As ek Skrif lees, is dit VERSEKER nie die manier hoe Jesus daarna gekyk het nie en Hy ook nie wil hê ons moet daarna kyk nie. T.s.v. die weerstand, leef Jesus Sy bediening voluit en vreesloos uit. Hoekom? Want Hy doen wat Sy Vader van Hom sê en kom vestig Sy koninkryk. Bv:
Hy leer Sy dissipels bid: “Vader, laat U koninkryk kom en U wil geskied, soos in die hemel en so ook op die aarde.”. M.a.w. dat iets van ons ware huis sal tuis raak op aarde.So begin Jesus ‘n revolusie wat na meer as 2000 jaar steeds uitbrei na biljoene mense toe. ‘n Boodskap van Goeie Nuus dat God deur Sy Seun onder ons kom woon het en plek wil maak in ons harte en lewens. Dat Hy ook groot wonders in ons lewe wil en kan doen AS ons Hom plek gee in ons lewe.Dan gaan Jesus sover om aan die einde van Sy aardse lewe, voordat Hy opvaar hemel vir Sy volgers te sê: “Net soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook.” (Joh.20:21)

Dus, die Kersboodskap is meer as net waardering en bewondering van ‘n babatjie in ‘n krippie, maar ook ‘n uitnodiging dat ons eerstens in ons eie lewe plek sal maak vir Jesus waar Hy kan leef en ons lewe werklik kan kom beinvloed en lei.

Dis als goed, maar die vraag is HOE? Hoe gaan ek en jy in 2021 plek kan maak vir Jesus? Die uitdagende ding van plek maak vir enigeiets nuut in ons lewe is dat ons eers sekere goed moet wegskuif of selfs ontslae van raak wat dalk mag keer dat daar nie plek is vir iets nuut nie. As jy bv. in ‘n huis wil intrek met al jou meubels, moet jy wag dat die vorige intrekkers hul meubels verwyder het.

Soms moet ons iets eers uit ons lewe verwyder om plek te kan maak vir iets nuuts om te kan groei en leef, iets nuut wat die Here dalk wil doen in en deur jou lewe…. Wat is dit wat jy dalk moet minder maak of selfs skrap sodat dit plek kan maak vir meer of iets nuuts wat die Here wil kom doen in en deur jou lewe?
So wil ek vandag vir jou 3 praktiese wenke gee om hier op Kersdag en vorentoe plek te maak vir Jesus in jou lewe:
1. Maak plek in jou hart vir Jesus…
“Jou hart” klink dalk soos iets abstrak, maar dit begin basies by jou gedagtes. In die Engels word daar soms verwys na die term “headspace” - die spasie waarmee jou gedagtes besig hou. So, ek wil jou vra: Is daar plek in jou gedagtewêreld vir Jesus? Dat jy dink oor Hom, wie Hy is en wat Hy wil doen in jou lewe. Deel van jou hart is ook jou emosies en wilsbesluite. Hoeveel laat jy toe dat Jesus hierdie innerlike areas van jou lewe vul?Dit laat my dink aan ‘n teks in Openbaring wat Jesus self die volgende uitnodiging kom maak:
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet.” OPENBARING 3:20 NLV

Hierdie teks word baie gebruik in die konteks van ‘n eenmalige besluit om Jesus aan te neem as jou Saligmaker en Verlosser, maar ek glo dat eintlik elke dag klop Jesus aan jou en my hart en nooi ons om opnuut Hom in te nooi in ons gedagtes, emosies en wilsbesluite dat Hy daar kan in en deur jou leef. Nog ‘n manier hoe jy plek kan maak vir Jesus is:

2. Maak plek in jou skedule vir Jesus…
Die feit dat jy vandag hierdie diens en boodskap luister sê vir my dat jy wil tyd maak vir Jesus.Tyd is seker die mees kosbaarste komoditeit wat ons hier op aarde het, want dit loop elke dag uit en daar is ‘n beperkte hoeveelheid daarvan.Rick Warren stel dit mooi wanneer hy sê:
“When you give someone your time, you are giving them a portion of your life that you'll never get back. Your time is your life. That is why the greatest gift you can give someone is your time” ― Rick Warren

Deurdat Jesus mensgeword het en aarde toe gekom het, het Hy kom wys dat God tyd wil maak vir ons. Meer as dit dat God ons so lief het dat Hy deur Jesus ons die ewige lewe, m.a.w. ewige tyd saam met ons wil spandeer. Miskien moet ek en jy ‘n “commitment” hierdie Kersdag maak om daaglikse tyd uit te koop vir Jesus. Dit mag dalk beteken om minder tyd te spandeer met nuttelose, minder belangrike dinge om tyd te maak om Jesus te ken en Sy stem oor jou lewe te hoor…. Mag ons plek maak in ons skedule vir Jesus... Laastens wil ek jou vandag nooi om:

3. Maak plek in jou leefwêreld vir Jesus…
Jesus wil nie net deel wees van jou privaat persoonlike lewe nie, maar ook jou publieke lewe.So, word ons genooi om nuwe maniere te vind om Jesus ook uit te leef na buite… tussen ons gesin, kollegas, vriende, familie… Vra jouself: Hoe kan ek plek maak vir Jesus tussen ander mense? Dalk net deur jou gesindheid of voorbeeld, dalk ‘n getuienis te deel wat Jesus vir jou gedoen het, dalk om vir iemand te bid of uit te reik na iemand wat jou hulp nodig het. Ek en jy word nou geroep om Jesus se hande & voete hier op aarde te wees.
Ek wil afsluit met ‘n belangrike en belowende vraag:Wat gaan gebeur wanneer ek plek maak vir Jesus in my lewe?In Jesus se eie woorde in Luk.9, hoor hoe stel die Message parafrase dit:Then he told them what they could expect for themselves:
“Anyone who intends to come with me has to let me lead. You’re not in the driver’s seat—I am. Don’t run from suffering; embrace it. Follow me and I’ll show you how. Self-help is no help at all. Self-sacrifice is the way, my way, to finding yourself, your true self. What good would it do to get everything you want and lose you, the real you?” Luke 9:23-25 MSG

Ek glo wanneer ons plek gaan maak vir Jesus hierdie Kersdag en vorentoe, ons meer van ware blydskap, ware vrede, ware vervulling, ware sinvolheid van ons lewe sal kan beleef.
BESPREKINGSVRAE:
1. Op watter manier was daar nie plek gemaak vir Jesus tydens Sy lewe en bediening op aarde nie?
2. Hoe kan jy op praktiese manier plek maak vir Jesus in jou hart, skedule en leefwêreld?
3. Wat kan gebeur wanneer ons plek maak vir Jesus in ons lewe?