YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Oggenddiens 10 Oktober 2021

Kruik Oggenddiens 10 Oktober 2021

Kruik Oggenddiens 10 Oktober 2021

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 7:00 AM

10 Okt Ogg : 'n God groter as my verstand

Het jy al ‘n legkaart gebou en dan kom jy by die laaste stukkie of 2 en dan is dit net weg? Wat beleef jy op daai oomblik? Frustrasie? Teleurstelling?

Laas Sondag het ons in Matt.16 gesien hoe Jesus sy dissipels lei na die vreemde plek van Sesarea-Fillipi en hulle vra wie hulle dink Hy is… Petrus het toe geantwoord met die woorde “U is die Messias, die Seun van die Lewende God.”. Jesus het toe op grond van hierdie uitspraak van Petrus vir Petrus ‘n nuwe naam, identiteit en uitkyk daarmee saam kom gee. Kan jy dink hoe Petrus moes gevoel het na Jesus so positief en profeties oor sy lewe kom spreek het? Hy moes in die wolke gewees het. Ongelukkig vir Petrus het hy egter vinnig ‘n duik gevang. Letterlik in die volgende moment wat opgeteken is van Jesus en Sy dissipels saam is dit duidelik Petrus het nog baie het om te leer…

Lees gou saam my in Matt.16:21-23 wat gebeur:
'Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” MATTEUS 16:21-23 AFR83

Wat ‘n anti-klimaks moes dit nie vir Petrus wees nie?! Eers ontvang hy openbaring van God af oor wie Jesus is en voel hy kry ‘n vorm van erkenning en dan die volgende oomblik lyk dit asof Jesus hom bestraf asof hy die duiwel self is! Wat het hier gebeur??
Petrus se prentjie van die Jesus as die Messias was nog baie beperk… Hy het waarskynlik gedink hierdie Jesus wat hy nou besef die Messias is, gaan kom om polities te regeer oor die Joodse volk en dikteer oor die Romeine wat druk op daardie stadium op die Jode gesit het. Hoekom is Jesus se woorde so hard op Petrus? Ek dink ons moet besef dat Jesus nie hier Petrus direk beskuldig as satan self nie, maar dat vir Petrus om Jesus te keer om te ly en te sterf teen God se wil sou wees en so ten gunste van satan sou wees. Om Jesus te keer om te sterf sou ‘n struikelblok wees tot die verlossingsplan wat God vir die mensdom gehad het.
En dan volg die belangrike woorde van Jesus wat ons vandag by gaan stilstaan: “want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Vandag wil ek met jou gesels oor die tema:
‘n God groter as my verstand.

Het jy al probeer God verstaan wie Hy is en hoe Hy werk en gevoel jy kry dit nie reg nie? Dis amper soos daai legkaartjie stukkie of 2 wat net nie lekker pas of verlore is…. As jy al daar was, dan kan ek jou belowe, jy is nie alleen nie… duidelik was Petrus al daar en so klomp groot geeste van die vroeë Kerk.

Die apostel Paulus wat ‘n hoogsgeleerde man was, ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus beleef en sy lewe toegewy het aan Hom skryf in 1 Kor.13 oor sy beperkte verstaan van God:
“Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.” 1 KORINTIËRS‬ ‭13:12‬ ‭NLV‬

Die groot intellektuele, Paulus, erken daar’s ‘n beperking by hom van wie hierdie wonder God is en hoe Hy werk - Paulus het nog nie al die legkaartstukkies vir ‘n volmaakte prentjie van God nie, maar Paulus het wel hoop dat eendag alles vir hom glashelder duidelik gaan wees wanneer hy in die ewige lewe saam met God sal wees. Mag dit jou ook ‘n stuk hoop gee vir die toekoms en lewe hierna dat die prentjie van God vir jou voltooi sal word…

Dit los ons egter vandag by die vraag: Beteken dit ek en jy gaan die res van ons lewe gestrand sit met ‘n klein beperkte prentjie van God? Gaan ons slegs moet wag tot ons eendag hemel toe gaan voor ons iets van God kan verstaan?
Vandag glo ek daar’s is nou reeds hoop vir jou en my…
Hierdie selfde Paulus skryf in Rom.12:2
'Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is. ' ROMEINE 12:2 NLV

Jy sien alhoewel Petrus in Matt.16 nie verstaan het wat God wil hê nie, het hy ook later, soos wat Paulus skryf, toegelaat dat God sy denkpatrone kom vernuwe en hy begin onderskei het meer van God se wil, dat Jesus as die Messias moes sterf en Petrus saam nou meer met God se wil begin kan beweeg en werk. Petrus het meer begin ontdek en verstaan van God.
Daarom is die eerste groot uitnodiging vandag:

1. Jesus nooi jou om NOU reeds meer van Hom te ONTDEK…
Hy wil hê jy moet nou reeds spreekwoordelik “legkaartstukke” van Hom bymekaar maak dit begin te bou en opgewonde raak oor wat jy nou reeds van Hom kan begryp en beleef…
Ek glo vandag Petrus en Paulus sal kan bevestig dat ons geloof in Christus nie ‘n statiese eenmalige stap is nie, maar ‘n uitnodiging tot ‘n ontdekkingsreis om dieper en meer te begryp van die misterie van wonder van hierdie God wat groter as ons verstand is.
Hoor hoe mooi skryf Paulus verder in Efr.3 oor die ontdekkingsreis van God se liefde vir ons:
“Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef.” ‭‭‭‭EFESIËRS‬ ‭3:18-19 ‭NLV
‬‬
Aan die eenkant wens Paulus dat ons sal iets begryp van die diepte en rykdom van God se liefde vir ons - dat ons van daardie legkaartstukke kan bymekaarmaak, maar terselfdertyd sê hy ons sal Christus se liefde beleef wat alle verstand te bowe gaan… M.a.w. God se liefde is steeds groter as ons verstand is - ons het nie al die legkaartstukkies van die grootheid van Sy liefde nie, maar ons kan NOU reeds iets Sy liefde beleef en ons eie maak… Dit lei ons na die 2de groot uitnodiging van:

2. Jesus nooi jou om NOU reeds meer van Hom te BELEEF…
Mag ons nuwe ‘n “treinstasie mentaliteit” in ons geloofsreis vat wat ons wag dat Jesus eendag terugkom om ons te kom haal voordat ons Hom sal beleef nie. Die uitnodiging is vir hier en nou.
In ons ontdekking en belewenis van God, gaan ons onvermydelik aangetrek word na God se groot en diep liefde vir ons en saam met die dissipel Johannes kan verklaar: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” Die reis saam met God stop egter nie daar nie.
In Johannes 21 lees ons ‘n hartroerende gesprek wat die opgestaande Jesus met Petrus het… Hierdie Petrus wat Jesus wou keer om te ly en sterf… Hierdie Petrus wat Jesus 3 keer verloën het… Hierdie Petrus wat se verstand nog nie alles verstaan van Jesus nie, maar ‘n paar legkaartstukke van Jesus reeds het…. Petrus het op hierdie punt reeds iets ONTDEK en BELEEF van Jesus se hart en liefde vir hom… Hy was reeds lief vir Jesus… Kom ons lees:
'Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?” Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.” Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus. Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.” ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape. ' JOHANNES 21:15-17 NLV
Terwyl Petrus nog nie alles verstaan het oor Jesus nie, is die uitnodiging van Jesus aan Petrus dieselfde uitnoding vir ons vandag:

3. Jesus nooi jou om NOU reeds Hom te VOLG…
Die feit dat ek en jy nog nie alles verstaan van Jesus en God hier op aarde, beteken glad nie dat ons passief en doelloos hoef te leef nie… Hierdie is juis die misterie en wonder van geloof: om ‘n God te vertrou en te volg al het jy nie al die antwoorde nie… Dis die avontuur en ontdekkingsreis van geloof waarna Jesus ons toe nooi… Beteken dat die altyd lekker en gemaklik gaan wees om Jesus te volg? Verseker nie! Volgers van Jesus soos Petrus en Paulus kon getuig van lyding, vervolging, hartseer, tog is ek oortuig daarvan dat hulle die pad saam Jesus vir niks sal wou verruil het nie, dat hulle weer Hom sou gekies het as hulle nog ‘n kans op die lewe sou gekry het…
Ek wil vandag afsluit met die woorde van Jesus in Matt.16 aan Petrus: “want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê."
Mag ons vandag saam met Petrus besef dat ons NOU reeds meer begin dink en ontdek aan wat God wil hê as bloot wat mense wil hê of ons selfsugtige self wil hê…
Ja, God is groter as ons verstand… Ja, ons het nog nie al die legkaartstukke van Hom nie… Maar….Mag ons Hom nou reeds meer ontdek, meer beleef en volg… Die legkaarstukke van Hom in hierdie lewe is vir nou genoeg…En eendag sal ons die volle Prentjie sien en beleef - wat ‘n vooruitsig!
BESPREKINGSVRAE:
1. Het jy al ‘n legkaart gebou en dan kom jy by die laaste stukkie of 2 en dan is dit net weg? Wat beleef jy op daai oomblik?
2. Beleef jy soms of jy "legkaartstukke" kort van jou verstaan van God?
3. Hoe kan mens die beste maak van die beperkte verstaan wat ons van God hier op aarde het?
4. Hoe kan mense soos Petrus en Paulus vir Jesus so toegewyd volg al het hulle nie die volle prentjie van God gehad nie?
5. Wat vat jy saam met jou vorentoe vanuit vandag se boodskap?