Kruik Gemeente
Kruik Oggenddiens 3 Oktober 2021
Kruik Oggenddiens 3 Oktober 2021
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Sunday 6:00 AM
SEISOENE VAN VERANDERING: Deel 3


Ek wil vandag begin deur jou te vra:
As daar enigiets is wat jy van jou lewe kon verander, wat sou dit wees?

Ek vermoed almal van ons sal gou aan iets kon dink wat ons wil verander… Dit kan dalk wees iets in die toestand van ons finansies, ons gesondheid of ons verhoudinge.
Iets wat nogals opvallend hierdie tyd van die jaar is, is die gretigheid by mense (dis vrouens en mans ingesluit) wat hulle gesondheid of “shape” in orde wil kry vir die somer en vakansie. Dis dieetprogramme en pille asook oefenprogramme en gyms raak nou weer besig na die winter om baie mense se begeerte na verandering van hulle uiterlike wese te kan help bystaan. As ons bietjie wyer kyk na ons samelewing se behoeftes, sal ons vind dat baie, indien nie alle bemarking en advertensies van een of ander produk of diens waaraan ons aan blootgestel word getuig van ‘n belofte tot verandering in een of ander gebied in ons lewens. Koop hierdie produk en kry hierdie diens in jou lewe, en jou lewe sal verander…

So, in ‘n groot mate leef ons in ‘n wêreld wat mense jaag en streef na een of ander verandering… Verandering is natuurlik opsigself noodwendig nie ‘n slegte ding nie en daar kan goeie gevolge voortspring vir mense wat verandering nastreef. Ek dink die moeilike en teleurstellende ding is wanneer jy jou hart op ‘n sekere vorm van verandering vir jouself sit en dit dan nie tot realisering kom nie. Jy is dalk gedetermineerd om te wil verander om nader aan die Here te beweeg en geestelik te groei, maar dis asof jy net nie op koers kan bly hou nie.

So, die groot vraag is:
Hoe kan mens suksesvol beweeg van een plek in ons lewe tot ‘n nuwe plek van verandering, wat volhoubaar en eg is?
Ek wil vandag met jou iets deel wat dalk vir jou anders gaan klink as die wereld se sg. geheime tot verandering en lewensukses, maar ek glo vandag die Jesus-manier is tot gesonde verandering in jou lewe. Ek nooi jou om saam my ‘n gedeelte te lees uit Matt.16:13-18, dan gesels ons meer hieroor…
'Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” “Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.” Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie. ' MATT.16:13-18 NLV

Daar is ‘n klomp belangrike en kosbare waarhede opgesluit in hierdie gedeelte wat ek jou wil help raaksien vandag. Eerstens lei Jesus sy dissipels na ‘n vreemde plek met die naam Sesarea-Filippi. Hierdie dorp was geleë op die voet van die berg Hermon en was bekend vir immorele praktyke en afgodsaanbiddery. Dit was die bestemming van die grot van Pan, ‘n afgod van die Grieke en Romeine en vroeër ‘n bekende aanbiddingsplek vir die afgod Baal vir die Kanaäniete. Heel waarskynlik was Jesus se dissipels, wat almal van Joodse afkoms was, nog nooit by hierdie plek nie. Dis nou wat jy in Engels sal noem “a change of scenery” vir Jesus se dissipels. Jesus lei sy dissipels na ‘n ongemaklike plek van verandering en dan vra Hy hulle ‘n merkwaardige vraag: Wie dink julle is Ek?
Wat hierdie vraag merkwaardig maak is dat ons vandag weet die identiteit van Jesus is vas en onveranderlik. Die Hebreers skrywer bevestig dit in Heb.13:8 wanneer dit sê: 'Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd! NLV

So, by ‘n plek van verandering (Sesaria-Fillipi) lei Jesus hulle fokus op die onveranderlike Een, Homself… Wie dink julle is Ek? Eers trippel die dissipels om hulle persoonlik antwoord op Jesus se vraag deur te sê: “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.”En rig Jesus die vraag terug na hulle toe deur te vra: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Ek vermoed daar was ‘n oomblik van ongemaklike stilte noudat die bal spreekwoordelik in hulle hand geplaas is en hulle moet persoonlik reageer op hierdie vraag…En dan antwoord Petrus: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Hierdie woorde van Petrus was nie ‘n nuwe waarheid nie, maar ‘n ewige konstante waarheid van wie Jesus nou altyd was, is en sal wees. Hoe reageer Jesus? Kom ons lees net weer: Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus.
Op grond van Petrus se antwoord op Jesus se vraag, bring Jesus ‘n verandering in naam, identiteit en mens kan sê ook seisoen in Petrus se lewe. Hy was eers Simon, wat beteken “die een wat hoor”... en Jesus verander sy naam na “Cefas” in die Aramees, oorvertaal is Petros in die Grieks wat beteken “‘n rots”. Terwyl ons lank kan gesels oor die betekenis van hierdie name en die implikasies daarvan, wil ek dit net so stel: In hierdie geleentheid bring Jesus ‘n verandering in hoe Petrus na homself kyk en daarmee saam ook sy roeping van wat God in stoor vir sy lewe het. Vandag weet ons dat hierdie harde ongeskoolde visser, wat Jesus ook 3 keer verloën, nogtans verander het as een van die mees prominente kerkleiers en apostels wat die geskiednis van die Christendom kom bou en groot beinvloed het.

Hierdie is als goed en wel, maar wat beteken hierdie verhaal vir ons in ons eie seisoene van ons lewe en hoe kan dit ons help om gesonde verandering in ons lewe te beleef?

Ek wil graag 3 groot waarhede oor verandering uit hierdie verhaal vir jou uitwys vir jou eie seisoene van verandering in jou lewe:

1. Goeie verandering is gebou op onveranderlike waarheid...
Petrus sal kon getuig hiervan hoe sy uitspraak van die onveranderlike waarheid van wie Jesus is ‘n goeie verandering in sy lewe kom bring het.
Soms gaan ek en jy onvoorspelbare en selfs onaangename seisoen ingaan wat voel asof die fondasies van ons lewe geskud word, maar dat ons juis in sulke tye sal vashou aan onveranderlike waarhede as ‘n fondasie en kompas op ons pad. Juis omdat onveranderlike waarhede standvastigheid vir ons bring, skep dit die veilige platform dat ons lewe groot en volhoubaar kan verander vir die goeie…
Hierdie lei ons na die 2de waarheid uit hierdie storie van Petrus:

2. Goeie verandering is gebou op wie God is…
Petrus het verklaar: “Jesus, U is die Messias, die Seun van die lewende God.” en die Here het sy lewe en seisoene kom verander…
In elke seisoen van ons lewe, sal die identiteit van God kontstant bly, wie Hy is. Wat wel opvallend is, is dat wie God is, Iemand is wat kom verandering bring het. Hy is die Skepper wat uit niks dit kom verander het in die skepping van die heelal…Hy is die Redder van die wereld wat die greep van sonde op ons as mens kom verander het in vryheid en oorwinning vir ons… Hierdie onveranderlike God is in die besigheid van verandering van lewens… Beteken dit vandag alle verandering is goed? Nee, maar miskien kan ons wanneer ons voor T-aansluitings in ons lewe staan wat tot verandering gaan lei onsself vra: Watter verandering in my lewe gaan God eer vir wie Hy is? Mag die seisoene van verandering in ons lewe gebou wees op wie God is… Mag ons toelaat en oorgee dat die ewige lewende onveranderlike God ons kan kom vorm en verander soos Hy die beste weet vir jou en my…
Derdens, kan ons vandag leer uit Petrus se gesprek met Jesus dat:

3. Goeie verandering is gebou vanuit wie jy nou in Christus is…
Petrus se identeit en lewe het nie bloot verander vir die doel van verandering nie, maar op grond van wie hy nou in Christus was… ‘n Nuwe skepsel verbind aan ‘n onveranderlike God.
Jy sien, hoe meer ons kan ontdek wie God werklik is, hoe meer sal ons ontdek wie ons in Hom is en ons hoe meer ons kan ontdek wie ons is, hoe meer sal ons begin verander en leef soos die mense wat God ons voor geskep, gered en geroep het. Ek en jy word en leef op die ou einde soos die mense wie ons glo ons is.
Baie van die verandering wat hierdie wêreld vir jou wil bied is oppervlakkige en tydelike verandering en modifikasies… Ek glo vandag as jy diep en volhoubare verandering in jou lewe wil sien, dit gaan begin by ‘n nuut dink en glo oor wie God jou werklik gemaak het om te wees. Ek vermoed almal van ons, my ingesluit, sal aangenaam verbaas wees as ons onsself werkllik 100% moet sien deur Jesus se oë… Dat Hy soveel meer waarde en potensiaal aan ons lewens heg as wat ons ooit in ons eie krag oor onsself kan probeer glo. Mag die Here jou en my help om onsself deur Sy oë te sien, dit te glo en dit te begin leef. Dis ware en goeie verandering.
So, kom ons vandag tot die besef dat as ek en jy goeie seisoene van verandering wil beleef dit gaan begin by onveranderlike waarheid: by wie God en wie jy nou in Hom is, soos Petrus kon ook getuig het daarvan.
BESPREKINGSVRAE:

1. As daar enigiets is wat jy van jou lewe kon verander, wat sou dit wees?
2. Hoe kan mens suksesvol beweeg van een plek in ons lewe tot ‘n nuwe plek van verandering, wat volhoubaar en eg is?
3. Hoe kan onveranderlike waarhede help dat ons verandering kan beleef?
4. Wat van vandag se boodskap het vir jou uitgestaan en kan jy saam met jou vat vorentoe?