Kruik Gemeente
Kruik Oggenddiens 25 Julie 2021
Kruik Oggenddiens 25 Julie 2021
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Sunday 7:00 AM
DIE DINGE WAT EK SÊ - Deel 1

Ek dink ons almal kan aan iemand dink met so ‘n neiging, maar ek vermoed as ons regtig eerlik met mekaar is, gebeur hierdie verskynsel van die verkeerde dinge te sê een of ander tyd met elkeen van ons, hetsy doelbewus of onbewustelik.

So, ons woorde kan ons soms in die moeilikheid kry, maar... ons woorde kan ook mense opbou en positiewe verandering meebring. Die waarheid is ons woorde dra krag en het ‘n invloed op ons en ander se lewens.
In die lig hiervan, gaan ons vandag stilstaan by 2 groot vrae, nl:

1. WAAR kom ons woorde vandaan?
M.a.w. wat is die oorsprong en oorsaak van dat ons seker dinge sê… en dan die 2de groot vraag is:
2. WAT kan ons met ons woorde doen?
Is daar iets wat ons kan doen om ons woorde te verander en dit beter te kan gebruik of is dit iets wat ons bloot slagoffers van woorde wat uitglip uit ons mond?

Gelukkig ken Jesus ons as mens ten volle en het geweet ons soms gaan sukkel met ons woorde en het ons soms begeleiding nodig op hierdie gebied. En so het Jesus tydens heel waarskynlik Sy grootste en mees bekende preek, die bergprediking, iets belangrik gesê oor die dinge wat ons sê. Ek wil jou nooi om saam my te lees in Luk.6 vanaf vers 43 wat Jesus ons leer:
“Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” ‭‭LUKAS‬ ‭6:43-45‬ ‭AFR83‬‬

Hiedie woorde het jy seker al iewers in jou lewe gehoor: Wat die hart van vol, loop dit mond van oor. Wat beteken dit vandag vir jou en my?
Die woordjie “hart” wat Jesus hier gebruik is die Griekse woord: “kardia” wat verwys na ‘n kombinasie van jou gedagtes en jou emosies, 'n samevatting van jou innerlike sielsmens.

En om te beklemtoon hoe belangrik hierdie lering van Jesus oor ons woorde was, word bevestig deur die feit dat Jesus meer as een keer hierdie stelling maak van “wat die hart van vol is, loop die mond van oor.”. Behalwe tydens die bergpredikasie, vind ons nog ‘n gedeelte later in Matt.12 waar die Fariseers Jesus kom beskuldig dat Hy sy genesingskrag kry van Beëlsebul, die baasduiwel. Jesus reageer skerp op hulle valse aannames en haal o.a. weer hierdie gedeelte aan wat ons nou gelees het, maar hierdie keer in ‘n baie fermer en sterker toon: Wat die hart van vol is loop die mond van oor.

Wat is die punt wat Jesus so sterk probeer oordra het vir ons?
Ek glo dit het te doen dat ons uiterlike sigbare lewe ‘n oorvloei en manifistasie is van ons innerlike onsigbare lewe. In Jesus se tyd het die Fariseers ‘n front probeer voorgegee van hoe godsdienstig en geestelik hulle is deur te fokus op ‘n uiterlike vertoning van spesiale kleredrag, om heeltyd gebede hardop in die publiek te bid tot nakom van mensgemaakte reëls om ander daardeur te probeer beindruk. Maar Jesus kom wys uit dat ware geestelike welstand begin by wat binne jou aangaan - wat jy dink, glo en voel, want dit gaan op die ou einde verkla word deur jou woorde en dade.

So, WAAR kom ons woorde vandaan?
Volgens Jesus, begin dit waarmee jy jou gedagtes besig hou. Saam met dit kan ons woorde sy oorsprong hê in iets groot en merkwaardig wat in ons verlede gebeur het of waaraan ons blootgestel is. Dalk is ons seergemaak, het ons iewers verwerping beleef of is ons aan een of ander vorm van trauma blootgestel wat maak dat ons op ‘n sekere manier optree en dinge sê.

Saam met dit, het dit wat ek en jy lees, luister en kyk ook ‘n invloed op ons woorde. Mense praat baie keer vanuit dit wat hulle hulself aan blootstel - watter artikels wat hulle lees, videos waarna hulle kyk, opinies van mense wie hulle aanhang - eenvoudig gestel: Dit waarmee ons ons hart mee volmaak, bepaal wat ons monde van oorloop. Kan ek jou vandag vra: Is jy gelukkig met die woorde wat uit jou mond kom? Sal jy jou woorde wil verander om dit meer opbouend en aangenaam te kry?
Dit bring ons vandag by die 2de groot vraag nl:

2. WAT kan ons met ons woorde doen?
In die teks wat ons gelees het in Luk.6 vandag verwys Jesus na dat 'n goeie boom nie slegte vrugte sal dra nie, en 'n slegte boom nie goeie vrugte nie. Die boom, hetsy goed of sleg, waarna Jesus hier verwys, is 'n simbool van ons hart as die oorsprong van ons woorde. 'n Goeie hart neig om goeie woorde te spreek terwyl uit 'n slegte hart slegte woorde makliker sal vloei. So, as ons op 'n manier ons harte goed kon gekry het, sal die dinge wat ons sê ook gekenmerk word as goed.

Maar... hierin lê die dilemma: voor Jesus se koms aarde toe om 'n Nuwe ooreenkoms met die mens te sluit, het die mensdom vir duisende jaar probeer hulle harte self goed te kry, maar sonder sukses. Ek en jy gaan nie ons harte self goed kry om sodoende ons woorde goed te kry nie. Ons het hulp nodig en dis juis waarom Jesus vir jou en my aarde toe gekom het: om 'n alternatief te kry om ons harte, woorde en lewens goed te kry.
Een geleentheid wat Jesus hierdie hartsverandering alternatief kom verduidelik is in Joh.15. Wanneer ons dit nou gaan lees neem in gedagte Luk.6 se prentjie van 'n boom, as die oorsprong en die vrug as woorde. Lees saam my vanuit die Boodskap parafrase:
“Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly  - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei. “Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei.” ‭‭Johannes‬ ‭15:4-5‬ ‭DB‬‬

Wat kom sê Jesus hier? Ek glo Hy kom wys dat ipv dat ons 'n goeie hart in ons eie krag nou moet probeer genereer om goeie woorde te op die ou einde te kan spreek, het Hy, Jesus, nou aarde toe gekom vir jou en my as die ware druiwestok, die ware boom van lewe, die Hart van God by ons. Die uitnodiging is duidelik, eerstens vandag, as ons ons harte en woorde wil verander:

Laat toe dat Jesus se hart in jou lewe
Ons het 'n nuwe hart nodig en daarvoor is spreekwoordelik 'n hartoorplanting nodig. Jesus gaan ook nie Sy hart op jou af forseer nie. Hy soek mense wat sê: Here, ek kan nie hierdie lewe op my eie leef nie. Kom leef in en deur My. Leer my opnuut wat liefde is en wat U sou gedoen het as U in my skoene was. Dis 'n groot gebed, maar dis hoe ons ons harte verander gaan kry.
Tweedens, wat ons in leer van die Jesus as die druiwestok en ons as die takkie, is eenvoudig die beginsel van:

Verander jou input
Jou en my hoof kanale van input vir ons hart en woorde is wat ons lees, luister en kyk. As ek en jy gaan bly lees, luister en kyk wat ons nog altyd gedoen het, kan ons nie verwag dat die dinge wat ons sê gaan verander nie. Hierdie input het natuurlik ook te doen met watter mense by meng en vir wie jy jou ore uitleen. Jy begin te praat soos die mense wat jy tyd saam spandeer - dis eenvoudig input.
Dalk het jy nodig om te gaan sit en 'n evaluasie te gaan doen wat jou huidige input is en of daar miskien aanpassings is wat jy kan maak om dinge wat jy sê meer te kry soos woorde wat iets van God se hart reflekteer. Mag die Here jou en my help om wys en selektief te wees watter input ons toelaat in ons hart & gedagtes in.

Ek wil vandag afsluit met 'n ou bekende gesegde wat saamvat wat dit Jesus in Luk.6 kom sê het en uitwys die rippel effek van ons gedagtes en woorde. Dit kom sê:
Watch your thoughts, they become your words. Watch your words, they become your actions. Watch your actions, they become your habits. Watch your habits, they become your character. Watch your character, it becomes your destiny.”
Op die ou einde dit wat ons hart van vol is, bepaal ons woorde en verder bepaal dit ons lewens rigting. Mag ons let op ons hart en ons woorde. Daarom wil ek jou nooi om saam my 'n eenvoudige gebed te bid wat Dawid ook gebid het in Ps.19 wat sê.
Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees, Here, my rots en my Verlosser.” ‭‭PSALMS‬ ‭19:15‬ ‭NLV‬‬
BESPREKINGSVRAE:
1. Hoe groot invloed, dink jy, het jou woorde op jouself en ander?
2. Waar dink jy kom jou woorde vandaan?
3. Watter invloed dink jy het dit wat mens lees, kyk en luister op mens se woorde?
4. Hoe dink jy help dit om Jesus se hart in jou lewe toe te laat met jou woorde?
5. Wat vat jy uit vandag se boodskap saam jou?