YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Oggenddiens 4 Julie 2021

Kruik Oggenddiens 4 Julie 2021

Kruik Oggenddiens 4 Julie 2021

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 8:00 AM

DIE STORIES VAN JESUS - DEEL 4

Die afgelope paar weke het ons ontdek dat die stories van Jesus baie meer is as blote mooi stories wat Hy kom vertel het. Net soos ek en jy besef, het Jesus geweet dat stories die vermoë het om ons aandag te hou, ons gedagtes vas te vang, ons emosies wakker te maak, ons te kom inspireer en bowenal om ons lewens te kan kom verander. Daarom het so ‘n groot deel van Jesus se bediening bestaan uit stories wat Hy vertel het, want dit was die groot manier hoe Hy lewensveranderende waarhede aan ons oorgedra het.

Baie van Jesus se stories het gehandel oor ‘n nuwe manier van leef waarnatoe ons uitgenooi word. Dit vertel baie keer van sekere karakter eienskappe wat ons uitgedaag word om aan te neem, maar nog ‘n baie belangrike doel van Jesus se stories was om wie God is aan ons te kom bekend maak en hoe hierdie God ook oor jou en my voel.

Vandag wil ek jou nooi om saam my te reis deur ‘n paar kort stories van Jesus, wat kom vertel meer van wie God is en van hoe Hy werk sodat ons nou in hierdie onsekere onvoorspelbare wêreld waarin ons onsself tans bevind, ‘n stuk sekerheid en standvastigheid in ‘n lewende God te kom vind wat steeds met ons is. Hierdie stories van Jesus vertel waarna ons vandag gaan kyk het Hy vertel n.a.v. ‘n klomp godsdienstige leiers wat hom gekritiseer het omdat Hy saam met sg. onrein mense geeët het wat teen die Joodse godsdienstige reëls was. Hierdie godsdienstige leiers se prentjie van God was so beperk en nougeset dat Jesus dit nodig geag het om hulle ‘n nuwe prentjie van God te bekend te stel. Lees saam my in Luk.15 hoe Jesus kom reageer het met 3 belangrike stories...

“Jesus sê toe vir hulle: “Sê My, wat sal julle maak as julle 100 skape het en een raak weg? Sal julle nie die ander 99 net daar in die veld laat staan en daardie een gaan soek wat weg is nie?” Lukas 15:3-4 DB

Jesus, die meester storieverteller, begin deur sy luisteraars in te trek in sy storie in deur hulle in die middel te plaas van hierdie storie en hulle te vra, hoe sal hulle maak as een van hulle kosbare skape moes wegraak? - Hy gaan dan aan om te sê dat as jy daardie 1 skaap gekry het, jy natuurlik baie bly gaan wees en ander mense gaan wil vertel daarvan en dalk selfs ‘n partytjie hou uit dankbaarheid oor die 1 skaap van jou wat eers weg was, maar nou gevind is. Dan skuif Jesus die fokus van hierdie storie na God toe en vertel verder:

“Weet julle, in God se wêreld gaan dit net so. Daar is groot vreugde in die hemel as een sondaar na God toe terugkom. Ja, daar is groter blydskap oor een mens wat van die verkeerde pad af terugkom as oor al God se kinders wat elke dag doen wat Hy van hulle vra.” Lukas 15:7 DB

Jesus stop egter nie hier met sy storievertelling nie, Hy vertel dan ‘n soortgelyke storie van ‘n vrou wat 10 waardevolle munstukke gehad het en een daarvan verloor. Sy soek dan haar huis hoek en kant deur vir hierdie 1 munstuk en uiteindelik vind sy dit! Dan vertel sy haar vriende en bure uit blydskap omdat sy die munstuk gekry het. Weereens, maak Jesus die konneksie na God toe dat ook so die hemel juig oor ‘n sondaar wat terugkeer na God toe.
Laastens, vertel Jesus nog ‘n storie in Luk.15 wat jy heel moontlik al van gehoor...
Dit gaan oor hierdie seun wat aandring om sy erfporsie wat hy sou kry nadat sy pa eers oorlede sou wees, nou dadelik al wou hê. Dit opigself was ‘n beledig in sy pa se teenwoordigheid. Maar sy pa staan hierdie erfporsie hom toe en hy verlaat die huis met ‘n klomp geld om in ‘n ander land te gaan bly. I.p. daarvan om hierdie kosbare erfgeld wys aan te wend en te vermeerder, mors hy letterlik alles daarvan uit om wilde partytjies en tydelike plesiere. Hy het dan niks meer nie. Asof dit nie erf genoeg is nie breek daar ‘n groot hongersnood uit oor die land waar hy bly en hy het niks eers om te eet nie. Hy is later bereid om selfs varkkos te eet net om aan die lewe te bly. Hy dink toe by homself: “Miskien moet ek terugkeer na my pa toe, maar die keer net as ‘n slaaf, want ek is nie meer waardig om ‘n seun genoem te word nie omdat ek so onverantwoordelik geleef het.” Hy skraap toe sy moed bymekaar en dan lees ons verder wat Jesus hier vertel:
“Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap. '“Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun genoem te word nie.’ “Maar die pa het gou vir sy werkers gesê: ‘Gaan haal die beste stel klere in my kas en bring dit vir my seun. Vat ook ’n ring en ’n paar goeie skoene en gee dit vir hom. Ja, en gaan slag gou-gou daardie kalf wat ons lankal vetmaak vir ’n spesiale geleentheid. Vandag gaan daar feesgevier word. 'Lukas 15:20-23 DB

So vertel Jesus hierdie 3 stories vir die godsdienstige leiers: 1. Die storie van die verlore skaap, 3. die verlore munstuk en 3. die verlore seun. Wat kan ons ontdek en verstaan van wie God is en hoe hy oor jou en my voel vanuit hierdie stories? Hoe kan hierdie stories ons vandag help in ons huidige leefwêreld?
Ek wil graag vandag met jou 3 groot waarhede deel vanuit hierdie 3 stories van Jesus oor wie God is, hoe Hy werk en hoe Hy voel oor jou… Die eerste daarvan is:

1. GOD SOEK JOU EERSTE…
Hierdie woorde klink dalk vir jou vreemd, maar hierdie is juis die een eienskap van God wat die Christelike geloof onderskei en anders maak van enige ander godsdiens. -Alle ander godsdienste moet jy eerste die soekwerk doen om jou plek te verdien of aanvaar te word of om een of ander geestelike prestasie te probeer bereik.- Jesus kom skets egter ‘n heel ander prentjie van God - dat Hy jou as Sy skepsel en eiendom so belangrik en waardevol ag, dat Hy bereid is om eerste jou te kom soek - net soos ‘n skaapwagter sy 1 verlore skaap sou soek, ‘n vrou haar een verlore muntstuk sou soek en ‘n pa hardloop en uitreik na sy seun wat verlore was.- Om die waarheid van God wat jou eerste soek te kom bevestig kan ons maar net kyk na Jesus se lewe & bediening hier op aarde. - In Luk.19:10 maak Jesus baie duidelik hoekom Hy aarde toe gekom het wanneer Hy die stelling maak: “Ek, die Seun van die mens, het gekom om almal wat verlore is, te soek en te red.” ‭‭Luk. ‭19:10‬ ‭ABA‬‬

Terwyl ek en jy verlore sondaars was het God Sy Seun aarde toe gestuur as ‘n bewys van Sy groot liefde vir jou en my wat ons kom opsoek en wil terugbring na ons Vaderhuis. - Daarom kan ons ook saam met die dissipel Johannes sê: “Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” Want, Hy het ons eerste gesoek. - Mag ons nou ook as ‘n reaksie op hierdie waarheid opnuut God se hart en wil vir ons lewe soek en Hom ken in alles van ons lewe… Mag ons Hom opnuut innooi in elke area van ons lewe, omdat Hy by die deur van ons harte klop en soek dat ons met Hom sal versoen…
‘n Tweede belangrike waarheid van wie God is, wat ons nie moet mis vanuit hierdie 3 stories van Jesus nie, is dat:

2. GOD IS VIR JOU.
Vanuit die storie van die verlore seun kan mens hierdie waarheid duidelik sien. Hierdie seun besluit om terug te keer na sy vader se huis toe met die gedagte dat hy net ‘n slaaf nou sal wees, want hy het reeds so drooggemaak. Sy pa kan tog nie meer vir hom wees nie.- Maar, dan lees ons hoe sy pa hardloop en uitreik na hom, hom soen en bly is. Hierdie seun wil nog probeer verduidelik en smeek dat hy tog net ‘n slaaf kan wees vir sy pa, maar sy pa se liefde is so vir hom, dat hy selfs daardie misdade teen sy seun verbykyk en hom guns en genade gee. Ek wonder, het jy al gevoel het jy te groot droog gemaak het dat God jou sal kan vergewe? Dat jy dit te ver gevat het dat jy ooit jou verhouding met Hom sal kan herstel? Dan is jy nie alleen nie. Ek was ook al daar en ook hierdie verlore seun, maar hoor wat sê Paulus in Rom.8 om hierdie waarheid van God te bevestig:

“Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees? As God nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgegee het, sal Hy nie saam met Hom ook alle ander dinge aan ons skenk nie? Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit.” ROMEINE 8:31-34 NLV

Die boodskap is duidelik: God is vir jou! Maak nie saak wat jy tans deurgaan in jou lewe, dit verander nie wie God is nie - Hy is steeds vir jou. - So, mag die waarheid omdat Hy vir jou is, maak dat ek en jy wil opstaan en leef met waagmoed kovir Hom. Hou moed, Hy is steeds vir jou…
‘n Laaste groot waarheid vanuit hierdie 3 stories wat Jesus in Luk.15 vertel wat ons duidelik in elkeen van hierdie stories sien is dat:

3. GOD JUIG OOR JOU!
Wanneer die verlore skaap gevind word is daar vreugde en ‘n feesmaal, wanneer die verlore muntstuk gevind word daar gejuig en so ook met die verlore seun wat terugkeer na sy huis is die blydskap groot en juig sy pa oor hom en word daar groot makietie gehou. Hoekom al die blydskap en groot bohaai maak van iets of iemand wat gevind is? Jy sien, al hierdie feesvieringe konnekteer Jesus aan wanneer ‘n sondaar terugkeer na God.- Die beste manier hoe ek dit kan probeer verduidelik en verstaan is soos wanneer jy baie goeie nuus kry oor iets in jou lewe… dalk het jy nuus gekry dat jy ‘n eksamen deur is, jy het dat jy dalk ‘n kompetisie gewen of jou sportspan wat jy ondersteun gewen het… Jy is vol blydskap en kan dit nie vir jouself hou nie. Nou, my vraag is: hoekom sal jy hierdie goeie nuus wil deel met ander mense? Is dit nie omdat jy wil hê hulle moet deel in jou blydskap nie? Jy wil graag hulle gesigsuitdrukking sien en stemtoon hoor hoe hulle saam jou bly was, want hulle snap iets van die grootheid en goedheid van hierdie nuus wat jy nou gedeel het… Ek dink dis dalk hoekom God juig oor jou en my: Hy het deur Christus Jesus REEDS die oorwinning behaal en het goeie nuus vir jou wat Hy hoop jy sal snap dat jy kan deelhê in Sy blydskap. - Hierdie oorwinning wat God behaal het, was nie verniet nie… Dit het Jesus se lewe gekos, maar selfs op Jesus se lydingspad kruis toe het Hy geweet van daardie blydskap wat oppas is.. - Hoor hoe beskryf die Hebreers skrywer dit…

“Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!”‭‭ Heb.12:2‬ ‭NLV
‬‬
Terwyl ons vandag ook nagmaal saam gaan gebruik, mag ons opnuut besef wie God is en die oorwinning wat Hy vir jou deur Christus kom bewerkstellig het. Mag ek en jy nooit vergeet nie: God soek jou eerste, God is vir jou en juig oor jou.
Besprekingsvrae:
1. Hoe kan die stories van Jesus ons help om God beter te leer ken?
2. Wat dink jy was die prentjie van God vir die godsdienstige Joodse leiers?
3. Watter nuwe prentjie van God kom openbaar Jesus deur Sy stories in Luk.15?
4. Wat staan vir jou uit van wat Jesus ons uitwys oor wie God is in Luk.15 wat jy jou eie maak?
5. Wat is jou reaksie op wie God is?

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy