YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Oggenddiens 2 Mei 2021

Kruik Oggenddiens 2 Mei 2021

Kruik Oggenddiens 25 April 2021

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 9:00 AM

Watter verskil het Jesus al in jou lewe gemaak?
Hoe sou jou en my lewe anders lyk as Christus nie deel daarvan was nie? So, watter verskil maak Hy as Hy wel deel van ons lewe is?

Die afgelope 3 Sondae het ons stilgestaan juis by die verskil wat Jesus in mense se lewens gemaak het aan wie Hy na Sy opstanding verskyn het. Daarmee saam, hoe die verskil wat Christus in hulle lewens gemaak het, jou en my vandag raak en help op ons geloofsreis saam Jesus.

Vandag, wil ek jou weer bekendstel aan ‘n man wat die verskyning van Jesus aan Hom heelwat anders beleef het as die ander vroeë volgers van Jesus aan wie Hy ook verskyn het. Hierdie man moes verseker geweet van Jesus se lewe en bediening op aarde, maar dit word bereken dat Jesus aan hierdie man verskyn het eers sowat 3-5 jaar na Jesus reeds opgevaar het hemel toe. Hierdie man was Saulus, later meer bekend as die apostel Paulus. Waar iemand soos Petrus ongeskoold en eenvoudig as visserman geleef het, was Paulus se hoogsgeleerde Fariseer. In Fil.3 deel hy ‘n oorsig van sy agtergrond en iets wat sy CV dalk sou sê.

“Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik! Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies.” FIL.3:4b-7 NLV

Terwyl Paulus sou kon spog oor al sy menslike prestasies, het iets gebeur dat daardie dinge wat hy voorheen as ‘n groot aanwins beskou het, nou a.g.v. Christus se impak in sy lewe nie meer relevant en belangrik vir hom is nie. Iets groots het in Paulus se lewe gebeur en ons moet uitvind en meer verstaan wat dit is, ook vir die implikasie daarvan op jou en my se eie geloofsreis.

Soos Paulus hier Fil.3 beskryf het, was hy eers ‘n fanatiese kerkvervolger gewees in sy amp as Fariseër. Christene was baie versigtig vir hierdie man Saulus, want hy het groot ontwrigting vir die vroeë kerk gebring. Eendag, oppad na ‘n dorp met die naam Damascus om nog Christene te gaan vervolg, het daar ewe skielik ‘n skerp verblindende lig op Paulus geskyn en Jesus so aan hom verskyn met ‘n belangrike boodskap.

Ons het almal op die grond neergeval, en ek het 'n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’ ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur. Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.” HAND.26:14-18 AFR83

Christus verskyn aan ‘n man wat Hom en Sy Kerk vervolg om vir hom te sê dat hy Paulus nou ander gaan vertel hoe om Christus deel van hulle lewens te maak en deel van hierdie Kerk te word wat Paulus so fanaties vervolg het! Hoe is dit moontlik?
Die enigste geldige antwoord hierop is GENADE... dat God verby jou en my verlede kyk en sy begeerte om in verhouding met jou te staan en om ‘n pad saam jou te stap groter is as jou foute.

2 belangrike waarhede uit hierdie verskyning van Jesus:

Die eerste daarvan is dat Jesus se verskyning aan Paulus hom uitgenooi het om Jesus werklik te leer ken vir wie Hy is en so:

1. Jesus wil hê jy moet beter ken…
Die groot uitnodiging van Jesus is nie bloot om mense te red dat ons net nie hel hoef toe te gaan nie, maar om ons op ‘n ontdekkingsreis te vat waar ons Hom meer en meer God leer ken en liefkry. Die feit dat Paulus voorheen Christus en Sy Kerk vervolg het getuig daarvan dat Paulus verblind was vir wie Jesus werklik is en die ware hart en doel van Sy Kerk, maar nou nooi Jesus vir Paulus tot ‘n lewende verhouding met Hom wat Sy lewe radikaal sou kom impakteer. Ons het vroeër vandag gelees in Fil.3 waar Paulus sy agtergrond beskryf en hy sy menslike prestasies as nikswerd beskou in vergelyking met Christus. Hy gaan egter verder aan in hierdie teks om te sê:

“Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry en een met Hom kan wees.” FIL.3:8 NLV

A.g.v. Jesus se verskyning aan Paulus, het daar ‘n goddelike obsessie by Paulus ontstaan om Jesus beter te leer ken en dit sy grootste missie te maak, baie meer as menslike prestasies. Hierdie is een vd groot redes vir Jesus se verskyning na Sy opstanding - dat mense sou kon weet dat Hy is wie Hy gesê het Hy is en Hom daarvoor kan leer ken en liefhê vir wie Hy werklik is.Mag ons daarom vandag deur die opstanding en verskyning die uitnodiging hoor wat Jesus aan jou en my kom rig om Hom al beter te leer ken en so al meer Hom liefhê, omdat Hy ons eerste liefgehad het. So, is die opstanding en verskyning van Jesus saam met Sy kruisiging alles deel van ‘n uitdrukking van God se liefde vir ons en Sy begeerte na ‘n verhouding met ons. Mag ons reageer, soos Paulus en besef hoe wonderlik is dit om Christus beter te leer ken en watter groot verskil Jesus aan ons lewens kan kom maak om ons hele uitkyk op die lewe te kan kom omdraai in ‘n nuwe manier van dink en doen.

Daar is egter ook ‘n 2de baie duidelike en belangrike tema met die verskyning van Christus aan Paulus, was dat...
2. Jesus wil hê jy moet Hom bekend maak op aarde…

Nie net was Jesus se verskyning aan Paulus ‘n uitnodiging om Jesus beter te leer ken nie, maar ook baie duidelik ‘n uitnodiging om Hom nou bekend te maak tussen alle mense. Paulus het hierdie uitnodiging ook heelhartig aanvaar en daar word gereken in sy sowat 30 jaar van bediening om Jesus bekend te maak heel moontlik meer as 16 000km per voet gereis het , meer as 4000 km per boot en ten minste 14 kerke geplant het. Hier is ‘n eenvoudige padkaart van sy sendingreise deur die Romeinse Ryk om die omvang van sy bediening te probeer begryp.

Buiten Jesus self, het Paulus se bediening en briewe van hom wat ons kry in die Nuwe Testament seker die grootste invloed op die Kerkwêreld, steeds vandag. So is dit ook moontlik dat Paulus se bediening jou dalk mag oorweldig om jou te voel jy kan nie naastenby soveel doen om Jesus bekend te maak aan ‘n gebroke wêreld nie, maar ek wil jou bemoedig met die die gesegde wat lui: “Jy is dalk die enigste Bybel wat iemand sal lees.” Deur hoe jy die verskil wat Christus in jou gemaak het uitleef, is jy besig om iets van ‘n openbaring van Christus vir ander om jou te wees. Daar is mense wat jy in kontak meer kom wat geen prediker of pastoor nou toegang tot het en in verhouding mee staan nie wat jy kan beinvloed. Dalk is dit bloot deur ‘n glimlag, omgee, te bid vir daardie persoon. In ‘n groot mate kom hierdie neer op die volgende: “Hoe meer Christus bekend vir jou is, hoe makliker sal jy Hom bekend kan maak aan ander.”. Dis sal oorvloei uit jou woorde, gedrag en menswees uit - dat Jesus ‘n werklikheid vir jou is en ook so ‘n werklikheid vir ander kan wees.

Mens sien op verskillende plekke duidelik hierdie 2 temas in Paulus se lewe aan die werk van Jesus ken en bekend maak. Een voorbeeld daarvan vind mens in Fil.1 wanneer hy skryf:

“Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins. As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie! Ek is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste. Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe.” FIL.1:21-24 NLV

Paulus kom sê hier dat Sy verhouding met Christus en om by Hom te wees verreweg die beste, maar om bertokke in ander mense se lewe te wees en Christus aan hulle bekend te maak belangriker nou vir hierdie mense is. “To know Christ and make Him known.”.

Ons v.ogg begin met die vraag: Watter verskil het Jesus al in my lewe gemaak? N.a.v. Paulus se storie, wil ek hierdie vraag bietjie anders by jou voor ek jou groet: Watter verskil gaan ek toelaat Jesus kom maak vandag in my lewe?

Jesus verskyn aan Paulus dat ek en jy ook genooi kan word om Christus beter te kan leer ken en vanuit daardie nabye verhouding, Hom bekend te maak aan die wat Hom nog nie ken nie. Ons moet hom egter toelaat om die opgestaande Christus in jou en my lewe te wees. Mag ons dit doen.
Besprekingsvrae:
1. Watter verskil het Jesus al in jou lewe gemaak?

2. Watter belangrike waarhede leer jy uit Jesus se verskyning aan Paulus?

3. Vanuit vandag se boodskap en gesprek, waarna toe nooi Jesus jou uit?

4. Hoe kan jy Christus beter leer ken?

5. Hoe kan jy Christus die week meer bekend maak aan ander?

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy