YouVersion Logo
Search Icon

Kruik Gemeente

Kruik Oggenddiens 7 Februarie 2021

Kruik Oggenddiens 7 Februarie 2021

Kruik Oggenddiens 7 Februarie 2021

Locations & Times

Kruik Gemeente

Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa

Sunday 9:00 AM

Wat maak jou gelukkig? Deel 2

Verlede week - Die groot gedagte is; dat om gelukkig te wees gaan meer oor 'n wie as oor 'n wat. As 'n wat ons gelukkig kon maak, kon ons dit net gaan kry of koop en gelukkig wees, reg?

Jesus lei ons weg van die wat's en doelbewus na die wie's in ons lewe.

Vanoggend - Baie mense dink dat om gelukkig te wees en 'n Christen te wees nie in een asem gebruik kan word nie. Maar hoekom sal God wat geluk gemaak het, nie ons gelukkig wil sien nie?

Jesus nooi ons na een van sy mees bekendste preke en sê; Ek weet wat jou gelukkig maak. Kom luister!

Eendag, toe Jesus sien hoe baie mense na Hom toe kom, het Hy teen ’n berg opgeklim sodat Hy hulle kon leer. Sy volgelinge het saam met Hom teen die berg opgeklim. Nadat Hy gaan sit het, sê Hy vir hulle;
Matteus 5:1-2 (Boodskap)

Ek weet wat julle gelukkig kan maak... (die mense moes opstaan en sê dis wat ek wil hoor) en dan sê Hy;

Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld.
Matteus 5:3 (Boodskap)

Gelukkig is elkeen wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

As jy gelukkig wil wees moet jy afhanklik wees. Hierdie is nie 'n standpunt wat sin maak in ons moderne lewe nie... ons leer van jonks af om onafhanklik te wees. Ek is gelukkig wanneer ek onafhanklik is.

Ek wil net op 'n plek in my lewe wees waar ek vir myself kan sorg... en hierdie is 'n gevaarlike plek om op te wees.

Jesus gooi die appelkar om - dis nie ryk mense wat gelukkig is nie, dis nie arm mense wat gelukkig is nie, dis die wat afhanklik is teenoor God maak nie saak hoeveel hulle het nie. Elke sekonde van elke dag.

Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog.
Matteus 5:4 (Boodskap)

God draai Sy hart na die wat swaarkry maar ook na die wat hulle hart draai na die wat swaarkry.

Jy sal gelukkig wees wanneer jy empatie het met die mense wat swaarkry, empatie het met hierdie stukkende wêreld!

Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort.
Matteus 5:5 (Boodskap)

Hierdie is vir my goeie nuus... ek is 'n huurder, so stukkie grond sal wonderlik wees. Hoe kry ek dit? Deur myself nie belangriker te ag as enige iemand anders in hierdie wêreld nie.

Die verkeerde veronderstelling wat ons maak met hierdie stelling is; dat óns nie belangrik is nie - so ek moet swak wees (meek). Nee jy moet net nie dink jy is beter as enige iemand anders nie. Want ons almal is afhanklik teenoor God en almal word ewe veel lief gekry deur God.

John Maxwell - God loves the people you don't like.

Wil jy gelukkig wees? Moenie dink jy is beter as ander nie.

Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat.
Matteus 5:6 (Boodskap)

Gelukkig is elkeen wat soek na dit wat goed en reg is.

Gelukkig is elkeen wat as hulle voor besluit kom die regte/goeie besluit maak al kos dit hulle iets.

Dink vir 'n oomblik hieraan... jy is nie spyt oor die goeie besluite van jou lewe nie - jy sê nie; ek wens ek het meer slegte besluite gemaak nie. Ek sou meer gelukkig gewees het as net meer slegte goed gedoen het.

Nee, jy sê as ek dit oor kon doen sou ek die regte goeie besluit gemaak het.

Gelukkig is elkeen wat soek na dit wat reg en goed is.

Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.
Matteus 5:7 (Boodskap)

Gelukkig is elkeen wat hulle hart na ander mense draai... God sal ook hulle hart na hulle draai.

Gelukkig is dié wat nie kwaad met kwaad vergeld nie, gelukkig is hulle wat vergewe, gelukkig is hulle wat hulle bitterheid eenkant sit sodat daar vrede kan wees. Gelukkig is hulle wat nie iemand wil raak ry omdat hulle raak gery is nie.

Jy weet dit - Jy het nog nooit 'n gelukkige persoon gesien wat bitterheid het nie. (Bitter gelukkig) Jy het nog nooit iemand gesien wat gelukkig is en ander mense seer maak nie. Dis in kontras met mekaar.

Jy is gelukkig wanneer jy gee al verdien die mense wat jy dit voor gee dit nie.

Klink dit nie baie soos God nie? Om liefde en genade en vergifnis te gee al verdien ons dit nie.

En dan gaan Jesus aan... wil jy God sien? (Pick me - Pick me)
Wil jy vanuit God se perspektief sien? Ja ek wil God sien... dit sal my gelukkig maak.

Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het. God sal sorg dat hulle Hom met hul eie oë sien.
Matteus 5:8 (Boodskap)

Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.

Gelukkig is die mense wat opreg is.

Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.
Matteus 5:9 (Boodskap)

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Verlede week het ons gesê, gelukkige mense is mense wat met vrede lewe.

Gelukkig is mense wat vergewe... want die appel sal nie ver van die boom val nie. Jy sal kind van God genoem word want dit is wat God doen.

Jy sal soos God lyk wanneer jy met vrede lewe, wanneer jy vrede maak en wanneer jy vergifnis soek.

Het jy al ooit gelukkige moeilikheid makers gesien? Die persoon wat altyd 'n probleem het met alles, sal jy hom of haar beskryf as 'n gelukkige mens?

Die mense wat altyd fout vind en ander mense se lewe wil bemoeilik, sal jy hulle beskryf as gelukkige mense?

Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld. Matteus 5:10 (Boodskap)

Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Beledig en vervolg hoort nie saam die woord gelukkig nie... reg?

Bottom line van Jesus se woorde is; Om gelukkig te wees is 'n uitkoms.
Om gelukkig te wees is meer langtermyn as korttermyn.

Jesus sluit sy preek af met 'n storie, soos enige goeie prediker doen.

Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.
Matteus 7:24-25 (OV)

Bv Klipkerk (Frustrasies loop hoog want jy wil klaar kry, die versoeking is die hele tyd daar om kortpaaie te vat. Maar hierdie gebou moet 100 jaar staan, so wat moet ons doen. Seker maak die fondasie en alles wat hierdie gebou aan mekaar hou is reg.)

En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met 'n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.
Matteus 7:26-27 (OV)

Jy het gehoor jy moet vrede maak en vrede hê, as jy gan aanhou kwaad stook en kwaad met kwaad vergeld en moeilikheid soek met mense... die potensiaal is daar dat jou val groot gaan wees.

Hierdie is die saai en oes beginsel in praktyk.

Want die storms en winde gaan verseker kom in ons lewens! Maar gelukkig is elkeen wat se fondasie reg is, gelukkig is elkeen wat se huisie bly staan ten spyte van die winde en storms van die lewe.

Gelukkig is elkeen wat reg maak vir die moeilike verhoudings en tye en gesprekke...



Besprekingsvrae:
1. Wat dink jy sal jou gelukkig maak?
2. Wat is dit wat Jesus ons gee en uitdaag om anders te dink oor gelukkig wees?
3. Wat moet jy verander om meer te beweeg na wat Jesus ons na uitnooi?