Kruik Gemeente
Kruik Oggenddiens 25 Desember 2020
Kruik Oggenddiens 25 Desember 2020
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Friday 7:00 AM
Dis kersfees!

Jesaja 9:5 Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.

Kol 1:27 Christus in julle, die hoop op die heerlikheid. Hoop vir hierdie wêreld!

Kersfees bring die realiteit dat daar iets groter is wat in ons lewens werk as net dit wat ons sintuie sê.

Ons het in die afgelope paar weke in ons Advent reeks gekyk na vier verhoudinge waar die koms van Jesus ‘n groot effek op hulle lewens gehad het. Maria, Herders, Johannes en Paulus.

Maar wat sê Jesus self oor sy koms en wat daardie dag in Bethlehem gebeur het.

Johannes pen ‘n gebed van Jesus tot die Vader neer en gee vir ons perspektief oor hoekom Jesus gekom het.

Johannes is ook die eerste evangelie skrywer wat nie by Bethlehem begin wanneer hy oor die koms van Jesus skryf nie, hy begin by die begin voordat enige iets gemaak is… Hy beskryf Jesus van die begin af by God en self God - Griekse Woord (Pros) - Aangesig tot aangesig, gedraai na mekaar. Hy beskryf Jesus aangesig tot aangesig tot die Vader en Heilige Gees. Mees intieme plek wat jy met God kan wees, een met Hom.

Jesus sê; Niemand het die Vader gesien behalwe die Seun nie.

Johannes ook die skrywer in die Nuwe Testament wat die meeste oor die Vader en die Heilige Gees skryf en ook Jesus se verhouding met hulle.
En dan beskryf hy Jesus se gebed so;
Johannes 17:1-6 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem.
Hierdie woorde is die hart van die evangelie. Ek het U bekend gemaak Vader en sal U bekend maak. Jesus vat verantwoordelikheid vir hierdie verhouding.

Volgens Jesus se gebed - wat het Hy kom doen? Hy het gekom om die Vader te verheerlik! Hy het gekom om die afstand te kanselleer, vir ons ewige lewe te gee. Hy het gekom sodat ons die Vader kan ken. Hy het gekom om die naam van die Vader bekend te maak.Hy het gekom om vir die mensdom te sê, julle behoort. (Gelykenis van die verlore skaap)

Johannes 17:11 Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.

Johannes 17:21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Johannes 17:22-23 Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

Johannes 17:24 “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

Johannes 17:26 Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Ek het gekom sodat julle kan wees waar ek is, nie net fisies nie, maar geestelik. Ek het gekom om die Vader aan julle bekend te maak en dat julle Hom mag ken soos Hy julle ken. Soos Ek Hom ken!

Ek wil Hom groot maak in jou, sodat niks groter in jou lewe sal wees as Ons nie. (Hy wat in jou is, is groter as hy wat in die wêreld is) Ek wil hê jy moet sien wat ek sien, beleef wat ek beleef. Ware lewe…

Ek wil hê jy moet lewe vanuit hierdie verhouding - dat alles in jou lewe sal begin vanuit hierdie verhouding.

Johannes 10:10 Ek het gekom, dat julle lewe en oorvloed kan hê.
Ek gaan weg maar ek stuur die Heilige Gees om julle te lei en te help en oortuiging te bring van hierdie wêreld!

Johannes 14:20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.

Die geboorte van Jesus in Bethlehem, is ook die terugkom van God na die mens toe. Die versoening, die herenig tussen God en mens - en Jesus nooi ons uit om te gaan daar waar Hy is. Aangesig tot aangesig met die Vader.

Kersfees en die koms van Jesus bly ‘n uitnodiging!

Kom! Volg My, na die Vader!


Gebed - Mag die liefde van ons Vader, die genade van ons Here Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees met julle wees.



Besprekingsvrae

Kersfees bly 'n uitnodiging om saam met Jesus te wees.

Het jy al hierdie uitnodiging aanvaar?