Kruik Gemeente
Kruik Oujaarsdiens 31 Desember 2020
Oujaarsdiens
Locations & Times
Expand
  • Kruik Gemeente
    Corner of PDP Kruger and, Nelson Mandela Dr, Street, Secunda, 2302, South Africa
    Thursday 6:00 PM
Ons is by die laaste aand van 2020… en so op die drumpel van ‘n aanbreek van ‘n nuwe jaar… Die lewe staan nie stil nie…
So, op hierdie 366ste dag van 2020 wil ek jou nooi om ‘n ou bekende teks saam my te lees in Prediker 3 oor tyd en dan gesels ons saam….
“Daar is ’n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd: ’n Tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf. ’n Tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is. ’n Tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak. ’n Tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou. ’n Tyd om te huil en ’n tyd om te lag. ’n Tyd om te treur en ’n tyd om van vreugde te dans. ’n Tyd om jou saad te saai en ’n tyd om jou saad terug te hou. ’n Tyd om te omhels en ’n tyd om weg te bly van omhelsing. ’n Tyd om te soek en ’n tyd om te verloor. ’n Tyd om op te pas en ’n tyd om weg te gooi. ’n Tyd om te skeur en ’n tyd om vas te werk. ’n Tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat.”‭‭PREDIKER‬ ‭3:1-7‬ ‭NLV‬‬

Daar is ‘n tyd vir alles… Ek glo tydens hierdie oujaarsaand is een van die beste dinge waarmee ons ons laaste ure van hierdie jaar kan gebruik meer as net om gereed te maak vir nuwejaarsvieringe en jolig te wees - ja natuurlik ons mag bly wees en die lewe vier, maar meer as dit, glo ek daar is iets kosbaar waarmee ons ons tyd kan spandeer en waarna ek jou ook saam my wil nooi vanaand.. En dis ‘n tyd van REFLEKSIE…
Wat bedoel ek by REFLEKSIE?? ‘n Mooi definisie van REFLEKSIE beskryf dit so: “Reflection: Serious thought or consideration. Contemplation, deliberation, pondering, meditation, musing.”

Refleksie is onafskeidbaar deel van ons…
Daarom kan ons en glo ek moet ons vanaand ook tyd maak om ook te reflekteer op hierdie interessante uitdagende jaar en betekenis daaruit te kan put vir die toekoms…. Jy mag dalk wonder, maar hoe en waaroor kan ek reflekteer hier aan die einde van die jaar??

Ek wil vanaand vir jou 3 eenvoudige vrae gee wat jy saam met jou kan vat in die nuwe jaar in. Hierdie is 3 vrae wt jy weer kan herbesoek in die nuwe jaar in wat jou gaan help om 2021 met ‘n goeie ingesteldheid in te kan gaan…

Die eerste refleksie vraag is eenvoudig:
Wat het ek GELEER uit 2020? In Spreuke 18 lees ons in die Message parafrase hierdie mooi beskwrywing van wyse mense wat sê: “Wise men and women are always learning, always listening for fresh insights.” Prov.18:15


Hierdie lei ons vandag na die 2 Refleksie vraag wat ek jou wil gee nl:
Watter tipe mens gaan ek WEES in 2021?

“Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.” 2 KOR.3:18 NLV
Ek en jy as volgers van Jesus, is geroep om naby Hom te leef en tyd saam met Hom te maak en te kan beleef soos wat ons naby Jesus leef en tyd maak saam Hom, hoe ons gedagtes, woorde en gedrag al meer soos Sy manier van dink en doen begin te lyk… Ons moet ‘n keuse maak om intensioneel te wees oor watter mens ek en jy in 2021 wil wees… Daar is mooi tekste in die Nuwe Testament wat jou en my kan help begelei om hierdie regte prentjie van wie ons moet wees te kan uitleef. Een so voorbeeld is in Jak.3:17 wat die karaktereienskappe van ‘n wyse mens mooi beskryf, wanneer dit sê:
“Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef; hy trap nie op ander nie, maar neem hulle gevoelens in ag; so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie; hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag; wat hy doen, sal altyd net goed vir ander wees. Hy sal nie op ’n onregverdige manier kant kies nie. Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug. ' Jakobus 3:17 DB

Die laaste vraag wat ek vandag by jou wil los is:
Wat gaan ek vir God en mense GEE in 2021? Ons lewe in ‘n samelewing wat behep is met KRY… Daar is ‘n leerstelling wat aangehang word dat hoe meer ek kan KRY in die lewe, hoe meer gelukkig gaan ek wees… Tog, is dit alles behalwe die waarheid. Juis die teenoorgestelde. Juis in ons GEE, beleef ons geluk en vervulling.Jesus se eie woorde in Hand.20:35 kom sê: “Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’” - Hand.20:35

Kan jy jouself indink hoe die wêreld sou lyk indien almal met ‘n GEE-ingesteldheid sou being leef? ‘n Lewe waar mense mekaar in liefde dien en ander mense bo hulle eie belange stel… Dit klink dalk iets soos ‘n droomwêreld, maar hierdie uitnodiging tot ‘n GEE-lewe is juis die lewe wat Jesus ons as Sy volgers voor roep. Ons word uitgedaag om nie te wag om eers iets te ontvang of ‘n erkenning te verwag nie, maar om vryelik ‘n GEE-lewe te leef, soos wat Jesus ons vryelik ‘n GEE-lewe kom gee het.

BESPREKINGSVRAE:
Vanaand op hierdie oujaarsaand nooi ek jou om nou reeds met die Here oor hierdie vrae te praat en te hoor wat Hy vir jou wil sê daardeur…
Wat het ek geleer uit 2020?
Watter tipe mense gaan ek wees in 2021?
Wat gaan ek vir God en ander gee in 202?
Ek wil jou ‘n oomblik gee om te reflekteer op hiedie 3 vrae. Jy’s welkom as jy dalk ‘n papier, notaboek of jou foon wil gebruik om jou antwoorde op hierdie vrae neer te skryf tydens hierdie tyd van refleksie...