MATTEUS 18:23-30
MATTEUS 18:23-30 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê dit, want God wat in die hemel is, is Koning. Dit is soos wanneer 'n koning besluit om te vra wat sy amptenare met sy geld gedoen het. En toe hy begin vra wat hulle gedoen het, het hulle een amptenaar na hom toe gebring wat vir die koning 10 000 talente geskuld het. Die amptenaar kon nie sy skuld betaal nie, en daarom het die koning gesê hulle moet die amptenaar verkoop, en ook sy vrou en sy kinders en alles wat hy gehad het. Hulle moes die geld dan gebruik om sy skuld te betaal. “Die amptenaar het toe gekniel voor die koning en hy het hom gesoebat en gesê: ‘Jy moet asseblief geduldig wees met my. Ek sal alles terugbetaal wat ek vir jou skuld.’ Die koning was toe baie jammer vir die amptenaar. Hy het hom laat gaan en hy het gesê dit is nie nodig dat die amptenaar die skuld betaal nie. Toe daardie amptenaar uitgaan, kry hy een van die ander amptenare wat vir hom geld geskuld het, hy het net 100 silwer geldstukke geskuld. Hy gryp hom toe aan die keel en begin om hom te wurg en hy sê: ‘Jy moet betaal wat jy vir my skuld!’ Die ander amptenaar val toe op sy knieë voor hom en soebat en sê: ‘Jy moet asseblief geduldig wees met my, ek sal alles terugbetaal wat ek vir jou skuld.’ Maar die eerste amptenaar wou nie. Hy het gegaan en hy het die ander amptenaar in die tronk laat gooi. Hy moes daar bly totdat hy die skuld betaal het.
MATTEUS 18:23-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom word die koninkryk van die hemele vergelyk met 'n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken. En toe hy begin afreken, word daar een na hom gebring wat tienduisend talente skuldig was. En omdat hy nie kon betaal nie, gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word. Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal. En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld. Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het.
MATTEUS 18:23-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met 'n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’ Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. “Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net 'n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’ Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’ Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.
MATTEUS 18:23-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Daarom is die •koninkryk van die hemele soos 'n koning wat rekenskap van sy slawe wou eis. Toe hy hulle skuld begin nagaan, is een wat tienduisend talent verskuldig was, na hom gebring. Omdat hy nie kon terugbetaal nie, het die heer beveel dat hy, asook sy vrou en kinders en alles wat hy besit, verkoop word en dat die skuld so terugbetaal moes word. Die slaaf het toe voor hom op die grond neergeval, laag voor hom gebuig en gesê, ‘Wees geduldig met my, en ek sal u alles terugbetaal.’ Die heer van daardie slaaf het hom innig jammer gekry, hom vrygelaat en sy skuld vir hom kwytgeskeld. Maar toe daardie slaaf uitgaan, het hy een van sy medeslawe gekry wat hom honderd denarius geskuld het. Hy het hom aan die keel gegryp, gewurg en gesê, ‘Betaal terug wat jy skuld!’ Sy medeslaaf val toe neer en smeek hom, ‘Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal.’ Maar hy wou nie – inteendeel, hy het weggegaan en hom in die tronk laat gooi, totdat hy die verskuldigde bedrag sou terugbetaal.
MATTEUS 18:23-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom word die koninkryk van die hemele vergelyk met 'n sekere koning, wat met sy dienaars rekening sou hou. En toe hy begin afreken het, is een na hom gebring wat hom tienduisend talente geskuld het. Maar omdat hy nie hoef te betaal nie, het sy heer bevel gegee dat hy verkoop moes word en sy vrou en kinders en alles wat hy het, en betaling moes betaal word. Die dienskneg het toe neergeval en hom aanbid en gesê: Here, wees geduldig met my, en ek sal U alles betaal. Toe was die heer van daardie dienskneg innig jammer, en hy het hom losgemaak en hom die skuld kwytgeskeld. Maar dieselfde dienskneg het uitgegaan en een van sy medediensknegte gekry wat hom honderd pennings geskuld het; en hy het hom die hande opgelê en hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. En sy mededienskneg het voor sy voete neergeval en hom gesmeek en gesê: Wees geduldig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die tronk gegooi totdat hy die skuld sou betaal.
MATTEUS 18:23-30 Die Boodskap (DB)
Toe vertel Jesus vir hulle ’n verhaal om te verduidelik wat Hy bedoel: “In God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n koning wat op ’n dag besluit het om sy boeke na te gaan en te kyk wie van sy onderdane hom geld skuld. Toe hy begin sommetjies maak, kom hy agter dat een van sy amptenare hom twintig miljoen rand skuld. Hy was baie geskok hieroor en het die man dadelik ontbied. Toe die man opdaag, het hy vir die koning gesê dat hy bankrot is. Hy kon nie sy skuld betaal nie. Die koning was woedend daaroor. ‘Verkoop hom en sy vrou en kinders daar op die mark as slawe. Verkoop ook al hulle besittings. So kry ek darem ’n paar rand terug.’ “Die vreesbevange amptenaar het toe op sy knieë voor die koning neergeval en om genade begin smeek. ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal alles terugbetaal wat ek aan u skuld.’ “Die koning se hart het sag geword toe hy die amptenaar so sien smeek. Toe besluit hy daar en dan om al sy skuld af te skryf. “Toe die amptenaar by die paleis uitstap, loop hy ’n ander amptenaar raak wat hom 9 000 rand skuld. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal nou dadelik wat jy my skuld!’ “Die man het op sy knieë neergeval en gepleit: ‘Gee my asseblief nog ’n laaste kans. Ek sal binnekort die geld terugbetaal wat ek jou skuld.’ “Die amptenaar was egter nie daarvoor te vinde nie. Hy het die man daar en dan in die tronk laat gooi.
MATTEUS 18:23-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ’n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. “Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal jou skuld!’ Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi, waar hy sou moes bly totdat hy al sy skuld afbetaal het.