LUKAS 18:18-23
LUKAS 18:18-23 Bybel vir almal (ABA)
'n Leier van die Jode het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God in sy tien gebooie gesê het: ‘ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer.’ ” Die man het vir Jesus gesê: “Vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Toe Jesus dit hoor, het Hy vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en deel die geld uit vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man het baie hartseer geword toe hy hoor wat Jesus sê, want hy was baie ryk.
LUKAS 18:18-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN 'n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder. En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou — verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.
LUKAS 18:18-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.” Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.
LUKAS 18:18-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Sekere maghebber het Hom gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen, sodat ek die ewige lewe kan erf?” Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; eer jou vader en jou moeder. ” Hy antwoord: “Dit alles het ek van jongs af nagekom.” Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir die man: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die man dit egter hoor, het hy baie bedroef geword, want hy was skatryk.
LUKAS 18:18-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En 'n sekere owerste het Hom gevra en gesê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus sê vir hom: Waarom noem jy My goed? niemand is goed nie, behalwe een, dit is God. U ken die gebooie: Moenie egbreuk pleeg nie, moenie doodslaan nie, moenie steel nie, gee geen valse getuienis nie, eer jou vader en jou moeder. En hy sê: Dit alles het ek bewaar van my jeug af. En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: Nog een ding ontbreek jou: verkoop alles wat jy het en deel dit uit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom, volg My. En toe hy dit hoor, was hy baie bedroef, want hy was baie ryk.
LUKAS 18:18-23 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het ’n baie belangrike man vir Jesus gesê: “Goeie Leermeester, sê my, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se wêreld kan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, jy moet God se voorskrifte gehoorsaam. En jy ken tog al God se voorskrifte: jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie leuens vertel nie, en jy moet respek hê vir jou pa en ma.” “Ag wat, ek doen al daardie dinge van kleins af,” sê die man. Daarop antwoord Jesus: “Wel, dan is daar nog net een klein dingetjie wat jy moet doen. Gaan verkoop al jou besittings. Gee dan al die geld vir die armes. Laat staan alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit doen, het jy vir jou ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.” Hierdie woorde het die man baie omgekrap, want hy was skatryk. Hy was nie van plan om alles wat hy het aan sy familie en aan die armes uit te deel nie.
LUKAS 18:18-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” Jesus het gereageer: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, dit is God. Jy ken mos die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis aflê nie, en eer jou vader en jou moeder.” Hy het geantwoord: “Al hierdie dinge het ek nagekom van kleins af.” Toe Jesus dit hoor, het Hy vir die man gesê: “Tog is daar een ding wat by jou kortkom: Verkoop alles wat jy besit en gaan deel die opbrengs aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan hierheen en word my dissipel.” Toe hy dit hoor, het die man baie afgehaal gevoel, want hy was skatryk.