JONA 4:1-11

JONA 4:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Jona was baie ontevrede. Hy het kwaad geword en tot die Here gebid en gesê: “Here, toe ek nog in my land was, het ek geweet dit sal gebeur. Daarom wou ek dadelik na Tarsis vlug. Ek het geweet U is 'n God wat genadig is, U is goed vir mense wat swaarkry. U is geduldig en U is vol liefde. U vergewe mense se sonde maklik. Daarom, Here, laat my sterf. Ek wil nie lewe nie.” Die Here het gesê: “Dink jy dit is reg om so kwaad te word?” Jona het uit die stad geloop en hy het oos van die stad gaan sit. Hy het vir hom 'n afdak gemaak en in die skaduwee gaan sit. Hy wou sien wat met die stad gebeur. Die Here het 'n plant laat groei, en die plant het skaduwee gemaak oor Jona se kop. Die son het hom nie gebrand nie. Jona was baie bly oor die plant. Maar toe dit lig word die volgende oggend, het God 'n wurm gestuur, en die wurm het die plant begin vreet. Die plant het toe doodgegaan. Toe die son opkom, het God ook 'n warm oostewind laat waai, en die son het Jona se kop gebrand. Jona het amper flou geword en hy het gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Ek wil sterf, ek wil nie lewe nie.” God het vir Jona gevra: “Dink jy dit is reg om kwaad te word oor die plant?” En Jona het gesê: “Ja, dit is reg! Ek is so kwaad dat ek kan sterf!” Die Here het vir Jona gesê: “Jy is bekommerd oor die plant, maar jy het dit nie geplant nie, jy het nie gewerk om dit te laat groei nie. Jy het nie die plant opgepas nie. Die plant het in die nag begin groei en dit het in die nag doodgegaan. Maar jy sê Ek mag nie bekommerd wees oor die stad Nineve nie. Dit is 'n groot stad, daar is meer as 120 000 mense in die stad. Hulle weet nie wat is reg en wat is verkeerd nie. Daar is ook baie diere in die stad. Mag Ek nie oor hulle bekommerd wees nie?”

JONA 4:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR Jona was hieroor erg ontstemd, en hy het kwaad geword. Toe bid hy tot die HERE en sê: Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil. O HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. Daarop sê die HERE: Het jy rede om vertoornd te wees? En Jona het die stad verlaat en aan die oostekant van die stad gaan sit. Daar maak hy toe vir hom 'n skerm, en hy gaan daaronder in die skaduwee sit, totdat hy sou sien wat met die stad gebeur. Toe beskik die HERE God 'n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom. Maar God het die volgende môre toe die dag breek, 'n wurm beskik; en dié het die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het. En met sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. Toe sê God vir Jona: Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? En hy antwoord: Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe. Verder sê die HERE: Jý wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?

JONA 4:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. “Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?” Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant. Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het. Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”

JONA 4:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar dit het Jona erg ontstel, en hy het kwaad geword. Hy bid toe tot die HERE en sê: “Ag, HERE, is dit nie wat ek gesê het toe ek nog in my land was nie? Daarom het ek vroegtydig na Tarsis gevlug, want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, geduldig en oorvloedig in troue liefde, 'n God wat berou het oor die onheil. HERE, neem dan nou maar my lewe van my weg, want dit is vir my beter om te sterf as om te leef.” Daarop sê die HERE: “Is dit reg dat jy so kwaad is?” Jona het by die stad uitgegaan en aan die oostekant gaan sit. Daar het hy vir hom 'n takskerm gemaak en daaronder in die skaduwee gaan sit, sodat hy kon sien wat met die stad gebeur. Toe het die HERE God 'n kasterolieplant beskik om oor Jona op te kom vir 'n skaduwee oor sy kop en om hom van sy onvergenoegdheid te bevry. Jona was baie bly oor die kasterolieplant. Maar met dagbreek die volgende môre het God 'n wurm beskik. Dit het die kasterolieplant binnegedring, en dit het verlep. Teen sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik, en toe die son op Jona se kop bak, het hy duiselig geraak en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te leef.” Toe sê God vir Jona: “Is dit reg dat jy kwaad is oor die kasterolieplant?” Hy het geantwoord: “Ek is tereg tot die dood toe kwaad.” Toe sê die HERE: “Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere? ”

JONA 4:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar dit het Jona uitermate mishaag, en hy was baie kwaad. En hy het tot die HERE gebid en gesê: Ek bid U, HERE, was dit nie wat ek gesê het toe ek nog in my land was nie? Daarom het ek vooraf na Tarsis gevlug, want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U is berou oor die onheil. Daarom, o HERE, neem tog tog my lewe van my weg; want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe. Toe sê die HERE: Is dit goed om kwaad te word? Jona het toe uit die stad gegaan en aan die oostekant van die stad gaan sit en vir hom 'n hutte gemaak en in die skadu daaronder gaan sit totdat hy kon sien wat van die stad sou word. En die HERE God het 'n kalbas berei en dit oor Jona laat opkom, sodat dit 'n skaduwee oor sy hoof kon wees om hom van sy droefheid te verlos. En Jona was baie bly oor die kalbas. Maar God het 'n wurm berei toe dit die volgende dag opkom, en dit het die kalbas getref dat dit verdroog het. En toe die son opkom, het God 'n hewige oostewind voorberei; en die son het op die hoof van Jona geslaan, dat hy beswyk het en in homself wou sterwe en gesê het: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. Toe sê God vir Jona: Is dit goed dat jy kwaad word vir die kalbas? En hy sê: Dit is goed om my toornig te wees tot die dood toe. Toe sê die HERE: U het U ontferm oor die kalbas, waarvoor U nie gearbei en nie laat groei het nie; wat in 'n nag opgekom en in 'n nag omgekom het; En moet ek Nineve, die groot stad, nie spaar nie, waarin meer as sestigduisend mense is wat nie tussen hulle regter- en hulle linkerhand kan onderskei nie; en ook baie beeste?

JONA 4:1-11 Die Boodskap (DB)

Jona was baie ontevrede omdat die Here van plan verander het. Hy het baie kwaad geword vir die Here. Hy het toe só vir die Here gesê: “Ag genade tog, Here, is dit nie presies wat ek vir myself gesê het toe ek nog by die huis was nie? Is dit nie hoekom ek aan die begin maar liewer na Tarsis toe wou vlug nie? Ek het voor my siel geweet U is die God wat mense vergewe en hulle jammer kry. U is geduldig met hulle en gee vir hulle om. U kry altyd later spyt as U besluit het om hulle te verwoes. Laat my tog nou maar liewer doodgaan, Here. Dit is beter as ek nie verder bly lewe nie.” Die Here vra hom toe: “Het jy die reg om vir my kwaad te word?” Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad vir hom ’n skerm gaan maak sodat hy daaronder in die skaduwee kon sit. Hy het daar gaan sit om te kyk of daar iets met die stad gaan gebeur. Die Here God laat toe ’n wonderplant opkom. Dit het ’n skaduwee oor Jona gegooi wat dit vir hom baie gemakliker gemaak het. Jona was baie bly oor die wonderplant. Maar die volgende oggend toe die son opkom, stuur God ’n wurm. Hy het aan die plant begin vreet en dit het veroorsaak dat die plant doodgaan. Die son het al warmer geword. Soos die dag vorder, het God ’n skroeiende warm wind uit die ooste laat waai. Die son het so warm op Jona gebrand en hom so gedaan gemaak dat hy naderhand gewens het dat hy tog maar liewer dood was. Hy sê toe weer soos hy gesê het: “Dit is beter as ek nie verder lewe nie.” God vra toe weer vir Jona: “Het jy die reg om oor hierdie wonderplant kwaad te wees?” “Ja, tot die dood toe,” antwoord Jona die Here. “Nou toe nou,” sê die Here vir hom. “Jy dink jy het die reg om kwaad te wees oor ’n plant waarvoor jy nie ’n oomblik moeite gedoen het om dit te laat groei nie, wat oornag op sy eie opgekom en weer net so verdwyn het. Maar jy wil nie hê Ek moet bekommerd wees oor die groot stad Nineve nie, waarin daar meer as 120 000 mense bly wat nie reg van verkeerd kan onderskei nie en waarin daar so baie diere is. Het Ek nie die reg om My oor hulle te bekommer nie?”

JONA 4:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie verandering het Jona ontstel. Hy het baie kwaad geword. Hy het by die HERE daaroor gekla: “Het ek nie voor ek by die huis weg is, gesê dit is wat U sou doen nie, HERE? Dit is die rede hoekom ek na Tarsis gevlug het! Ek het geweet U is ’n genadige God, ’n God van medelye. U word stadig kwaad en is liefdevol en getrou. Ek het geweet U kry maklik berou en dat U van plan sou verander en hulle nie straf nie. HERE, vat nou maar my lewe! Ek wil liewer dood wees as om te lewe.” Die HERE het geantwoord: “Is dit reg van jou om hieroor kwaad te wees?” Jona is toe uit die stad uit. Hy het aan die oostekant van die stad gaan sit en vir hom ’n skuiling gemaak. Hy het onder die skuiling gesit terwyl hy gewag het om te sien of iets met die stad sou gebeur. Die HERE God het toe ’n plant laat groei wat skaduwee oor Jona se kop gemaak het. Dit het hom beter laat voel. Jona was baie bly oor die plant. Maar God stuur toe ’n wurm. Met dagbreek die volgende môre het die wurm die stam van die plant afgevreet. Die plant het verdroog. Toe die son opkom, het God ’n skroeiende oostewind laat opsteek. Die son het so op Jona se kop neergebrand dat hy swak begin voel het en gewens het om dood te gaan. Hy het gesê: “Dit is beter om dood te gaan as om te lewe!” God sê toe vir Jona: “Is dit reg van jou om kwaad te wees omdat die plant dood is?” Jona het geantwoord: “Ja, ek is so kwaad dat ek kan sterf!” Toe sê die HERE: “Jy is ontsteld oor die plant en dit terwyl jy niks gedoen het om die plant te versorg of te laat groei nie. Die plant het oornag opgekom en is weer oornag vernietig. Nineve het meer as 120 000 mense wat nie weet wat reg of verkeerd is nie en ook baie diere. Sal Ek dan nie medelye hê oor die groot stad Nineve nie?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid