JOHANNES 21:18-25

JOHANNES 21:18-25 Bybel vir almal (ABA)

Petrus, Ek sê vir jou, en dit is seker: Toe jy jonk was, het jy self jou klere vasgemaak en jy het gegaan waar jy wil. Maar jy sal oud word en jy sal jou hande uitsteek en iemand anders sal jou klere vasmaak en hy sal jou wegneem na 'n plek waar jy nie wil wees nie.” Toe Jesus dit gesê het, het Hy verduidelik hoe Petrus later sal sterf en vir God sal eer. Toe het Jesus vir Petrus gesê: “Kom saam met My!” Petrus het omgedraai. Hy sien toe die dissipel vir wie Jesus lief was, kom ook saam. Dit was dieselfde dissipel wat langs Jesus gesit het toe hulle geëet het en wat vir Jesus gevra het: “Here, sê vir ons wie is dit wat vir U sal verraai.” Toe Petrus die dissipel sien vir wie Jesus lief was, vra hy vir Jesus: “Here, wat sal gebeur met daardie dissipel?” Jesus het vir hom gesê: “As Ek wil hê hy moet lewe totdat Ek kom, dan is dit nie jou probleem nie. Ek het gesê jý moet saam met My kom.” Die dissipels het toe gedink die dissipel vir wie Jesus lief was, sal nooit doodgaan nie. Maar hulle was verkeerd. Jesus het nie gesê daardie dissipel sal nie doodgaan nie. Jesus het vir Petrus gesê: “As Ek wil hê hy moet lewe totdat Ek kom, dan is dit nie jou probleem nie.” Die dissipel vir wie Jesus lief was, is die dissipel wat alles vertel het wat in hierdie boek geskryf is, hy het dit alles geskryf. Ons weet dit is waar wat hy vertel het. Jesus het ook baie ander dinge gedoen, maar 'n mens lees nie daarvan in hierdie boek nie. As 'n mens oor dit alles ook wil skryf, dan dink ek daar sal nie genoeg plek in die wêreld wees vir al die boeke nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid