2 KONINGS 2:7-9
2 KONINGS 2:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Elia en Elisa het by die Jordaan-rivier gaan staan, en 50 van die profete het verder weg gestaan. Elia het sy bo-kleed geneem en hy het dit opgerol en daarmee op die water geslaan. Toe het daar 'n pad deur die rivier gekom, en Elia en Elisa het op droë grond deur die rivier geloop. Terwyl hulle deur die rivier geloop het, het Elia vir Elisa gesê: “Jy moet sê wat ek vir jou moet doen voordat die Here my wegneem van jou.” Elisa het geantwoord: “Ek wil asseblief ook 'n profeet wees soos jy, maar twee maal beter as ander profete.”
2 KONINGS 2:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En vyftig man van die profete-seuns het geloop en op 'n afstand eenkant gestaan, terwyl hulle twee by die Jordaan staan. Toe neem Elía sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het. En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog 'n dubbele deel van u gees op my kom.
2 KONINGS 2:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Vyftigtal van die profete is agterna en het op 'n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het. Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?” Elisa het geantwoord: “Mag daar tog 'n dubbele deel van u gees op my kom!”
2 KONINGS 2:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vyftig man van die profetegroep het ook gegaan en teenoor hulle op 'n afstand bly staan. Hulle twee het langs die Jordaan gestaan. Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na weerskante verdeel, en hulle twee het op droë grond oorgegaan. Hulle was net deur, toe vra Elia vir Elisa: “Vra wat ek vir jou kan doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Elisa het geantwoord: “Laat daar asseblief 'n dubbele deel van u gees na my kom.”
2 KONINGS 2:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En vyftig man van die profete-seuns het gegaan en gaan staan om van ver af te kyk, en hulle twee het by die Jordaan gestaan. En Elía het sy mantel geneem en dit toegedraai en die waters getref, en dit is hierheen en daarheen verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgetrek het. En toe hulle deurgetrek het, sê Elía vir Elísa: Vra wat ek vir jou moet doen voordat ek van jou weggeneem word. En Elísa sê: Laat tog 'n dubbele deel van jou gees op my wees.
2 KONINGS 2:7-9 Die Boodskap (DB)
’n Groep van omtrent 50 profete het hulle gevolg en op ’n afstand gekyk wat hulle by die rivier doen. Elia het sy mantel opgerol en daarmee op die water geslaan. Dit het die water laat verdeel en hulle twee het droogvoets deur die rivier gestap. Aan die ander kant het Elia vir Elisa gevra: “Wat kan ek nog vir jou doen voordat ek van jou af weggeneem word?” Elisa het geantwoord: “Laat ek as seun wat eerste gebore is, ’n dubbele porsie erf.”
2 KONINGS 2:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Uit die groep profete het 50 mans ook saamgegaan en op ’n afstand, teenoor die plek waar Elia en Elisa by die Jordaanrivier was, gaan staan. Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het weerskante toe verdeel sodat die twee droogvoets deur die rivier kon gaan. Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?” “Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,” antwoord Elisa.