YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 19

19
Gesprek oor egskeiding
(Mark. 10:1-12)
1Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy uit Galilea vertrek en in die gebied van Judea anderkant die Jordaan gekom. 2Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak.
3Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?”
4Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? 5Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ 6Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.”
7Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?”
8Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. 9Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.”
10Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.”
11Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. 12Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel.
“Wie dit kan doen, laat hy dit doen.”
Jesus seën die kindertjies
(Mark. 10:13-16; Luk. 18:15-17)
13Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas.
14Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
15Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.
Die ryk jongman
(Mark. 10:17-31; Luk. 18:18-30)
16Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
17Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.”
18“Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra.
Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, 19eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ”
20“Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?”
21Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”
22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: 'n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”
25Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?”
26Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”
27Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”
28Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer. 29En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.
30“Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Currently Selected:

MATTEUS 19: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy