YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 11:2-15

MATTEUS 11:2-15 NLV

Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra: “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?” Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien – blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus. En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’” Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie? Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie. Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet. Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou gereedmaak.’ “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy! Vandat Johannes die Doper begin preek het tot nou toe is God se koninkryk besig om vir homself ’n pad oop te breek en mense wat al hulle kragte daarop toespits, maak dit hulle eie. Al die profete en die wet, tot Johannes self, het geprofeteer aangaande die huidige tyd. As julle bereid is om te aanvaar wat Ek vir julle sê – hý is die Elia wat sou kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê!

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy