YouVersion Logo
Search Icon

EFESIËRS 1:3-14

EFESIËRS 1:3-14 NLV

Prys God, die Vader van ons Here Jesus Christus, voortdurend, want Hy is wonderlik goed vir ons! Deur wat Christus gedoen het, het Hy ons geseën met elke geestelike seëning wat daar in die hemelsfere is. Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies. Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om Syne te wees en onberispelik in liefde voor sy aangesig te lewe. Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem. Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê. Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy genade aan ons gegee. Deur sy geliefde Seun is ons verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Ons oortredings is vergewe omdat God die rykdom van sy genade in oorvloed aan ons gegee het. God, wat al die wysheid en insig het, het sy geheime plan aan ons bekendgemaak. So het Hy dit reeds voorheen, met die fokus op Christus, goedgevind om hierdie plan in die volheid van die tye tot uitvoering te bring. Hierdie geheime plan is om alles wat in die hemel en op die aarde is, onder een hoof te verenig; en hierdie hoof is Christus. Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie erfdeel geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het. Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word. Ons was die eerstes wat ons hoop op Christus geplaas het. Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het. Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees. Daarvoor moet ons God se grootheid prys!

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy